Of jy nou twintig of tagtig is, dit bly altyd lekker om deur kiekie-albums te blaai en terug te dink aan al die Kodak-oomblikke van jou lewe.
Dis dan ook geen wonder nie dat foto-albums, benewens die Bybel, die nommereen-item is wat mense glo sou gryp indien ’n brand in hul huis sou uitbreek.
Die verlede, dit wat was, word vir die res van tyd – of solank die ink nie te dof word nie – in ’n stillewe vasgevang en vertel vanuit albums of fotorame ’n storie van ’n oomblik.
Maar afgesien van die verlede – waarin mense so maklik verstrengel raak – huisves die toekoms oor die eeue heen ook ’n magiese bekoring.
Dink maar aan al die futuristiese flieks, waarvolgens die jaar 2000 ’n paar dekades gelede iets uit die bose was; waar mense met noupassende foelie-blink klere sou rondloop en in klein ruimtetuigies heen en weer sou pendel.
Van kindsbeen af droom kinders daarvan om grootmense te word en as jy groot is, droom jy van eksotiese vakansies of al die lekker dinge wat jy eendag gaan doen wanneer jy die Lotto wen of daai promosie kry.
Die ironie van die verlede en die toekoms is dat dit die hede soms heeltemal vertroebel. Ons is so belas met wat gebeur het en bemoeid met dit wat ons nog moet of wil doen, dat ons dikwels skoon vergeet om die hede te waardeer.
Eckart Tolle bestudeer en kasty hierdie “agterlosige” gedrag breedvoerig in sy boek, The Power of Now. Hy verduidelik dat elke ding wat ooit met ’n mens gebeur het of gaan gebeur, in werklikheid in die hede – op daardie gegewe tydstip – gebeur.
Toe jy jare gelede die eerste keer ’n meisie of ou gesoen het, was dit op daardie oomblik die hede, die realiteit. Nou, as jy daaraan dink, is dit bloot ’n herinnering.
Wanneer jy pal oor die toekoms droom – en ja, mens moet beslis drome en ideale hê – verwyder dit jou van die werklikheid, van die hier en die nou.
Met die verlede wat trek en die toekoms wat wink, is dit so maklik om te vergeet om die lewe, wat eintlik slegs in die hede gebeur, te ervaar en te waardeer.
Dis maklik om die sonsondergang mis te kyk terwyl jy vir die verkeerslig wag om groen te raak en om te maak of jy na iemand luister terwyl jy wonder wat jy vanaand vir jou gaste vir aandete gaan voorsit. Daar is mos ’n gesegde wat sê die lewe is wat gebeur terwyl ons besig is om ander planne te maak . . .
Soos met die meeste dinge in die lewe, vra die balans tussen die verlede, die hede en die toekoms ook matigheid.
Dink gerus terug aan al jou Kodak-oomblikke en droom oor die toekoms en waar jy jouself oor vyf jaar sien – maak net seker dat die kosbaarheid van die hier en die nou jou nie vir ewig verbygaan nie.
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited