Geskryf vir YourProperty
Daar is onlangs herhaaldelik by vandeesweek se Property Proser leser ingebreek terwyl sy in haar meenthuis was en sy is deur die polisie en ’n sekuriteitsmaatskappy aangeraai om ’n klein hondjie aan te skaf wat by haar in die huis kan bly.
Ten einde toestemming hiervoor te bekom, moes sy ’n aansoekvorm invul, wat deur die trustees van die regspersoon goedgekeur moet word. Nog voor die aansoek voorgelê is, het die voorsitter (van die trustees) reeds aangedui dat sy nie dink dit ’n goeie idee is dat ons leser ’n hond aanhou nie.
Die leser sê daar is baie ander mense in die kompleks wat honde aanhou en wil van ons paneel deskundiges weet of die trustees haar aansoek mag weier.
Lucille Geldenhuys van Lucille Geldenhuys Prokureurs in Stellenbosch sê kragtens artikel 35(1) van die Deeltitelwet Nr 95 van 1986 sal elke deeltitelskema vanaf die datum van totstandkoming van die regspersoon, beheer en bestuur word by wyse van ’n stel reëls.
“Die wet bevat standaard bestuurs- en gedragsreëls wat van toepassing is op alle deeltitelskemas. Dit maak egter voorsiening daarvoor dat die ontwikkelaar vervangende reëls mag registreer ten tyde van die opening van die deeltitelregister.”
Geldenhuys sê die eienaars mag ook ná totstandkoming van die regspersoon die skema se reëls – ongeag of dit die standaard- of ontwikkelaar se reëls is – vervang of uitbrei.
“Indien die eienaars sou besluit dat hulle wel troeteldiere wil aanhou sonder om eers toestemming daarvoor te moet kry, mag hulle die gedragsreëls dienooreenkomstig aanpas. Dit sou egter wenslik wees dat ’n beperking op die aantal en tipe troeteldiere wat aangehou mag word, opgelê word.”
’n Reël wat ’n uit en uit verbod plaas op die aanhou van troeteldiere mag – by gebreke aan uitsonderlike omstandighede wat so ’n verbod sou regverdig – aanvegbaar wees op die grondslag dat dit inbreuk maak op ’n eienaar se ware eienaarskap van sy eenheid, sê Geldenhuys.
Schalk van der Merwe van Rawson Properties Helderberg sê ten einde die leser se vraag behoorlik te kan beantwoord, sal dit nodig wees om insae te hê in die reëls wat van toepassing is op die deeltitelskema waarin sy ’n eenheid besit.
“As die standaard-reëls van toepassing is, sal sy nie sonder die toestemming van die trustees van die regspersoon ’n troeteldier in haar eenheid of op enige gedeelte van die gemeenskaplike eiendom mag aanhou nie.”
Volgens Van der Merwe is daar ’n verpligting op die trustees om elke versoek wat aan hulle gerig word, op eie meriete te oorweeg en hul besluit te baseer op die feite en omstandighede relevant tot die betrokke versoek.
“Hulle mag nie die versoek bloot afwys op die basis dat hulle nie ’n presedent vir soortgelyke versoeke wil skep nie.”
Van der Merwe sê indien daar gewysigde reëls geregistreer was vir die skema waarin die leser se eenheid is, sal haar versoek ooreenkomstig dié gewysigde gedragsreëls hanteer moet word.
“Indien die leser nie gelukkig is met die besluit van die trustees nie en ’n dispuut ontstaan as gevolg daarvan wat nie in terme van die reëls opgelos kan word nie, dan moet dit, kragtens die wet, by wyse van arbitrasie besleg word.”
Sy sal ook die opsie hê om ’n hof vir ’n beslissing te nader, aldus Van der Merwe.
Stuur eiendomverwante vrae hier.