Terwyl die land sy vere vir nóg ’n vakansiedag regskud in wat sekerlik die onproduktiefse maand ooit is, is ons politici vir oulaas koorsagtig aan die vry na stemme.

Die HAT se verklaring van ’n politikus is nou nie juis interessant nie en daarom bied ek die volgende een aan:

Hoogsbetaalde manlike of vroulike vermaaklikheidspersoonlikheid met ’n twyfelagtige ondersteunersnetwerk en/of verlede. Bekend daarvoor om ’n berg van ’n molshoop te maak en andersom. Swakheid vir owerspel.

Die Amerikaners het nie net sepies en werklikheidstelevisie vervolmaak nie, hulle het ook die kuns bemeester om verkiesingsveldtogte in sepies te omskep en dit wil vir my voorkom asof ons ouens besig is om van die beste te leer.

Die karakters kom en gaan, maar die basiese bestanddele bly dieselfde. En soos dit enige goeie sepie betaam, kan jy die uiteinde voorspel – al mis jy ’n paar episodes langs die pad.

Hoe goed moet ’n politikus nie kan act om tydens ’n televisie-onderhoud met ’n breë glimlag in ’n plakkerskamp te staan en te verduidelik dat hulle nie net promise nie, maar ook deliver?

Van die plaaslike politici het selfs nou die dag soos ware divas opgetree deur hulle nie te verwerdig om betyds vir ’n onderhoud op Morning Live op te daag nie.

Al is baie van die plaaslike politici maar bra swak akteurs, gryp dít wat hulle in die werklike lewe aanvang, dikwels my verbeelding aan.

Soos die Amerikaners, kan ons ook “spog” met ’n president wat voor ’n listige vrou geval het. Sy verkiesing-roadshows is selfs deur hofsages oordonder en wat is ’n sepie dan nou sonder ’n uitgerekte court scene of twee?

Vanjaar se veldtog was genadiglik darem nie so lank uitgerek soos ’n sepie nie; eerder short and not so sweet.

Ek kan egter nie help om te wonder hoeveel Voyager-myle in die proses opgebou is en of al die geheen en weer vlieëry darem die nasionale lugredery so ietwat uit hul geldelike verknorsing gehelp het nie. Sal ook interessant wees om te weet of hulle of ons daarvoor betaal het . . .

Dit ten spyt, sal ons maar weer gedienstig en gedweë volgende Woensdag in die tou gaan staan en dink: “Kyk noord en vote voort.”

Want ons het ’n verantwoordelikheid om seker te maak ons stap nie dieselfde paadjie as ons buurland – met die wêreld se voorste komediant aan die stuur van sake – nie. Ons voorste kandidaat het juis die vermoë om die lagspiere behoorlik te prikkel.

Ten minste het ons darem nog brandstof in ons karre en kos in ons kaste. En hoewel almal se beursies nie bult nie, is dit darem nie vol waardelose Zim-dollars nie.

Daarom sal ons weer ons kruisies gaan trek, al ken ons die uitslag. Want – onthou – as jy nie jou reg om te stem uitoefen nie, mag jy nie later kritiseer nie.

En miskien verskaf die toetrede van ’n splinternuwe party dalk net ’n interessante kinkel in dié andersins voorspelbare cable show.
 
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited