Die idee van ’n begraafplaas gee meeste lewendes ’n kouegeit teen die nek af, maar dit gryp ander se verbeelding weer soos ’n sappige skinderstorie aan.

Praatjies van grafopgrawings en lyke wat vir weke in koelkamers gehou word, het baie gewone mense die afgelope jare aan die giggel en gril gehad.

En onthou julle die pastoor van Cradock wat sélf sy graf gegrawe het en vir die doodstyding gelê en wag het?

Die sombere onderwerp van begrawe word, kom nie sommer in ligte geselskap op nie. Vriende van my bieg egter onlangs dat hulle nie eers kan onthou wanneer laas hulle by die familiegrafte was nie.

Hulle is voorstanders van verassing, want dan hoef die familie nie met skuldgevoelens te worstel as hulle nie gereeld vars blomme gaan opsit nie.

Dit laat my nogal aan Lukas Maree se liedjie “Victoriabaai” dink, wat hy aan sy oorle’ ma opgedra het. Haar veraste oorskot is glo daar gestrooi en omdat hy nie gereeld ’n draai kan maak nie, is dié liedjie sommer die “blomme op haar graf”.

Waar baie mense begraafplase vermy, is daar wel ’n hele spul – die sogenaamde grafliefhebbers – wat ’n makabere belangstelling in dié ondergrondse saak het. Hulle sal glo selfs vakansieplanne rondom “interessante” grafte beplan.

Dié fenomeen is toe ook ’n week of wat gelede oor die radio bevestig toe die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika breedvoerig vertel het hoe mens nou deur middel van Google Earth byna elke begraafplaas in die land van die gemak van jou studeerkamer af kan besoek.

Dit sluit glo ook familiebegraafplase op plase, oftewel familie-akkers, in. Voorheen was daar nie juis veel inligting oor dié miskende besienswaardighede beskikbaar nie.

’n Vriend van my wat op so einste familieplaas – wat al generasies in hul besit is – boer, vertel hoe sy ongeërgdheid oor grafte en grafopsoekers hom nou die dag erg in die verleentheid gebring het.

’n Paartjie, wat glo op hul wittebrood in die omgewing was, het douvoordag een oggend, in die middel van oestyd, opgedaag om hul grafte te besigtig.

Hy het verduidelik dat die grafte (darem nie van sy eie familie nie) nie onderhou word nie en van die bossies en onkruid vervuil is. Dit is ook nie eintlik gemerk nie en hy het ook net ’n vae idee waar dit is.

Dit het hulle egter min geskeel en nadat hy hulle in ’n rigting in beduie het waarin hy gedink het dit dalk kon wees, is die paartjie vort.

Só kry die verbaasde plaashulp, Klaas, dié twee toe waar hulle in ’n baie gewyde stemming gebede voor die erg vervalle “grafte” doen.

Nádat hulle hom verduidelik het wat hulle daar doen, het hy hulle met groot oë aangekyk – seker deels omdat hulle nie die dooies se siele wou laat rus nie, maar grootliks omdat hulle eintlik voor die verbrokkelde bouvalle van ’n ou waenhuis gestaan het.

Nei man,” het hy hulle toe reggehelp, “die oumense lê meer hiernatoe.”

Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited