Die rofstoeiers van SABC 2 se gewilde WWP Thunderstrike sal hul spiere Paas-Maandag op Hobiestrand in Port Elizabeth tydens die MTN Nelson Mandelabaai Splashfees laat bult.
Die Burger in die Oos-Kaap is weer die hoofborg van dié toernooi, wat as WWP Thunderstrike Makes a Turn bemark word.
Supersterre soos Skull, Tornado, Blacksmith, Fury, Super X, Weasel en ons eie Kwaito Kid van Motherwell sal sake van 10vm af by die Shark Rock Pier uitspook.
Volgens Mark Beale, WWP Thunderstrike se woordvoerder, is hulle oorgehaal om weer vanjaar by die Splashfees te wees en hy moedig die publiek aan om van die geleentheid gebruik te maak om die land se top professionle stoeiers gratis in aksie te sien.
Hy sê die onbetwiste hoogtepunt sal wees wanneer Blacksmith en Weasel – wat altwee onlangs in 7de Laan te siene was – kragte met Tornado en Skull meet. “Ons verwag dat hierdie geveg groot belangstelling gaan lok.”
Beale sê Tornado en Skull is glo woedend, aangesien hulle van mening is dat húlle eerder in die sepie moes verskyn het. “Hulle het belowe om die Splash-geveg te gebruik om te bewys dat hulle die eintlike sterre is.”
Nóg adrenalienbelaaide kragmetings sluit die geveg tussen Kilimandjaro – wat ook as Nigerië se menslike berg bekend staan – en Ananzi in. Kilimandjaro is onlangs as Afrika se swaargewigkampioen bekroon and sal dié titel verdedig.
Baaienaars sal nog een van hul eie, Devon Storm, kan ondersteun wanneer hy Super X die stryd aansê. Die land se sexyste stoeier, Akilah, sal ook iets vir die toeskouers se oë wees.
Glenn van Eck van Magnetic Storm, een van die feesorganiseerders, sê dié opwindende stoei-aksie is maar net een van die vele hoogtepunte oor die vier dae.
Die program, wat van 10 tot 13 April strek, sluit ook optredes deur kunstenaars van allerlei genres, ’n branderroei-wêreldbyeenkoms, swemitems, strandsokker, ’n nasionale vlugbal-byeenkoms, sandbeeldhouwerk, ’n paaseierjag en meer as 120 stalletjies in.
Vir meer inligting en vir die volledige feesprogram, besoek www.splashfestival.com of bel die feeskantoor by 041 393 4844.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
MTN Nelson Mandelabaai Splashfees