Geskryf vir Property Poser

Ná ons Property Poser leser reeds vir ’n geruime tyd ’n wooneenheid deur ’n eiendomsagent gehuur het, het die eienaar van huuragentskappe verwissel.

Die leser is nou deur die nuwe agent in kennis gestel dat haar munisipale waterrekening agterstallig is.

Volgens haar sluit die huurbedrag wat sy met die oorspronklike eiendomsagent ooreengekom het, die onkoste van water in. Sy sê die tweede agent het nie ’n nuwe kontrak met haar gesluit nie.

Lucille Geldenhuys van Lucille Geldenhuys Prokureurs op Stellenbosch sê die mandaat wat die eienaar aan die agent gegee het, sal bepaal wat hy of sy benewens die invordering van huur namens die eienaar moet hanteer.

“Nieteenstaande wat die kontrak tussen die verhuringsagent en die eienaar, as verhuurder, bepaal, sal die verhuurder nogtans te alle tye teenoor die huurder aanspreeklik wees in terme van die regte en verpligtinge wat op die verhuurder rus kragtens die huurkontrak en die Wet op Huurbehuising Nr 50 van 1999.”

Geldenhuys sê dit blyk dat, in die leser se geval, die mandaat van een verhuringsagent beëindig is en ’n nuwe mandaat aan ’n ander verhuringsagent gegee is.

Volgens haar sal hierdie verskuiwing geen invloed op die leser se huurkontrak – soos aanvanklik geteken onder die eerste verhuringsagent se mandaat – hê nie.

“Verder beteken so ’n verskuiwing nie dat ’n nuwe huurkontrak geteken hoef te word nie. Die eerste kontrak bly voortbestaan tot die ooreengekome huurtermyn verstryk het.”

Geldenhuys sê indien daar met die sluiting van die eerste huurkontrak aan die leser gekommunikeer is dat die huur die waterrekening insluit, sal die verhuurder uitvoering aan die ooreenkoms moet gee en self verantwoordelikheid vir die betaling moet aanvaar.

Schalk van der Merwe, van Rawson Properties Helderberg, sê indien die huurkontrak egter wel die verpligting om die waterrekening te betaal op die leser plaas, sal die leser dit moet betaal.

“Die feit dat die verhuringsagent versuim het om die betalings in te vorder, beteken nie dat die kontraktuele verpligting van die leser om dit te betaal, tot niet gegaan het nie.”

Van der Merwe sê indien die verhuringsagent versuim het om die waterrekening in te vorder, sou dit redelik wees dat hy of sy ’n afbetalingsreëling met die leser tref in plaas daarvan om die volle bedrag onmiddellik te eis.

“Dit is verstaanbaar dat dit vir die leser moeilik mag wees om die volle verskuldigde bedrag eenmalig te betaal indien sy verkeerdelik, maar bona fide, gedink het dat die waterrekening by die huur ingesluit was,” verduidelik hy.

Van der Merwe sê uit die inligting wat verskaf is, lyk dit nie of die verhuringsagent die korrekte prosedure volg om die leser aan te spreek vir die beweerde kontrakbreuk nie.

“Die leser mag die huurbehuisingstribunaal kontak om haar by te staan in die aangeleentheid,” sê hy. “Andersins moet sy dit oorweeg om ’n prokureur te gaan sien, wat haar sal kan adviseer oor haar regte soos vervat in die kontrak en kragtens die wet.”

Stuur eiendomverwante vrae hier