Om te dink, terwyl jy dié rubriek lees en jou ontbytkoffie geniet, slaap die Amerikaners nog en lees die Kiwis al slaaptydstories vir hul kleingoed.
G’n wonder ons arme sportmanne teken beswaar aan as hulle so dikwels en vir lang tye aan die ander kant van die wêreld moet uithaal en wys nie, want vlugvoosheid kan ’n man nogal onder kry – veral, as ek so na die uitslae kyk, Doer Onder.
Hulle vertel my die opoffering wat ons moet deurmaak om in die nánag vir ’n kriekettoets in Australië op te staan, is niks in vergelyking met die foltering om daar uit te kom en dan nog dadelik te perform ook nie.
’n Getroude paartjie waarmee ek goed bevriend is, het onlangs die uitmergelende sewentien uur lange vlug na Washington onderneem en bogenoemde beaam.
Kan mens glo, sê hulle, tot twee weke vat om van die simptome (wat moegheid, slapeloosheid, naarheid en prikkelbaarheid insluit) te herstel indien jy nie aan dié klas van (re)toer gewoond is nie.
My vriend se vrou se vlugvosigheid hou toe langer as twee weke aan en toe hulle net so duskant skei staan, toe ontdek hulle sy is eintlik swanger en toe vloei die liefde weer. Praat van Made in America . . .
Ander vriende van my was weer in ’n groot verleentheid toe hulle hulself met die Europese tydsverskille misgis het. In hul verdediging, is ek seker hulle is nie die enigste en laaste toeriste wat ooit slagoffers van die nuanse van daylight saving was nie.
’n Paar winters terug moes hulle tussen Engeland en Parys ’n aansluitingsvlug op Amsterdam haal. Daar was egter fout met die vliegtuig en die passasiers is aangesê om vieruur dié middag vir die volgende vlug aan te tree.
Ten spyte daarvan dat die Schiphol-lughawe een van die grootstes ter wêreld is en baie tulp- en sjokoladewinkels het om jou aandag af te trek, kom hulle toe so tien minute voor die tyd by die aangewese Hek C aan (in ons vriendekring is hulle die stiptelikes).
Maar van ’n vliegtuig of mede-passasiers was daar geen sprake nie. Net twee erg ontstelde Hollandse lugwaardinne met stywe serpies om die nekke wat geïrriteerd met hul hoëhakskoene op die teëls tap dance.
Die een vra: “Are you Mr and Mrs Van der Merwe?” Toe my vriende verbaas “ja” knik, sê sy kortaf: “That’s very unfortunate.”
Volgens “oorlewering” het die twee verdwaasde Suid-Afrikaners beurtelings vir mekaar, die groot elektroniese horlosie teen die muur (wat duidelik beduie het dis 16:52) en die twee rugsakke wat buite in die sneeu gelê het, gekyk.
Ná lang onderhandelings, het hulle darem daai aand nog Parys gehaal en die volgende middag op die einste Eiffel-toring gesweer om nooit weer tydsaam te wees met die stel van hul horlosies nie.
“Ag wat,” het my vriendin se man geskerts toe ons later oor ’n glasie nabetragting hou, “ek het geweet daai dag is nie die einde van die wêreld nie – dit was dan reeds môre in Australië.”
Pieter is ’n onderwyser asook die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited