’n Sanderige paaseierjag gaan weer vanjaar vir vet pret sorg op Hobiestrand by die jaarlikse MTN Nalson Mandelabaai Splashfees wat van 10 tot 13 April in Port Elizabeth plaasvind.
MTN het onlangs aangekondig dat hulle vanjaar saam met die munisipaliteit borge van dié gesinswaterfees gaan wees.
The Bridge-winkelsentrum is vir die sesde agtereenvolgende jaar by die paaseiersoektog betrokke. Sonica van der Meulen, bemarkingsbestuurder van dié sentrum sê dit is een van hulle grootste jaarlikse liefdadigheidsprojekte.
Sy sê kinders van so jonk as twee jaar kan aan die paaseiersoektog deelneem en moet sommer vir oupa en ouma ook saamnooi om in ’n spesiale senior-afdeling in die sand vir sjokolade rond te grawe.
“Kaartjieverkope se geld word aan ’n plaaslike liefdadigheidsorganisasie geskenk en ons nooi ook op die dag hierdie kinders om die fees en die paaseiersoektog saam met ons te kom geniet.”
Sy sê kaartjies sal Sondag van vroegoggend af teen ’n geringe bedrag by die strandfront te koop wees en die paaseiersoektog begin om ongeveer 12vm.
Doug Pudney van Frontier Events, wat help om die paaseierjag te reel, sê hulle gaan darem nie regtig sjokolade onder die sand begrawe nie, “Net vir ingeval die laaste somerson dit laat smelt.”
“Ons begrawe plastiekbuisies met verskillende kleure proppies onder die sand. Mense wat dié buisies opdiep kan dit inhandig in ruil vir hul sjokolade.”
Volgens feesorganiseerder, Glenn van Eck, is dit by uitstek ’n watersport-gesinsfees. “Paasfees is gesinstyd en Splash is hiervolgens gereël.”
Hy sê afgesien van ’n magdom watersport- en strandaktiwiteite, sal feesgangers ook op vermaak en kraampies van hoogstaande gehalte trakteer word.
Volgens Van Eck, word die feeswebwerf (www.splashfestival.com) vroeg aanstaande week bekendgestel. Dié webtuiste sal op-versoek-inligting, soos nuus en programme bevat. Die feeskantoor se nommer is 041 393 4844.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
On behalf of:
MTN Nelson Mandelabaai Splashfees