Plaaslike kunshandwerkers sal by vanjaar se MTN Nelson Mandelabaai Splashfees, wat tydens Paasnaweek in Port Elizabeth plaasvind, die geleentheid kry om feesgangers met hul handewerk te betower.

’n Handwerk-in-aksie-tent sal tydens dié 19de jaarlikse gesinsfees by Hobiestrand opgerig word, waar die meer as 500 000 verwagte besoekers nie net hierdie unieke items sal kan koop nie, maar ook sal kan sien hoe dit gemaak word.

Feeskonsultant, Loryn van Eck, sê die gedagte is ontwikkel om vir kunshandwerkers die geleentheid te gee om hul werk aan die publiek bekend te stel.

“Daar is mense in ons streek wat die mees ongelooflike handewerk doen, maar nie oor die geld, afsetgebied of  geleenthede beskik om werklik hul ware sinvol te bemark en te vorkoop nie.”

Volgens haar sal kunshandwerkers van die Oliver-stigting, Red Location en sommige individue genader word om hul ambagte hier te demonstreer.

Van Eck sê verder dat die handwerktent ook aan sakeondenemings die geleeentheid gee om op ’n bekostigbare manier by die fees betrokke te raak.

“Die tent kan veertien kunshandwerkers huisves en maatskappye kan hierdie entrepreneurs help deur ’n uitstalruimte teen R1 500 te borg.”

Enige besigheid wat een of meer van die handwerkers borg, sal, volgens van Eck, hul ondernemings in en om die tent kan adverteer.

“Aangesien die Splashfees so ’n groot gebeurtenis op die jaarlikse kalender is, wil baie ondernemings graag by die fees betrokke raak. Die handwerktent skep die ideale geleentheid hiervoor, aangesien dit bekostigbaar is.”

Op dié manier, sê van Eck, kan ondernemings werklik ’n noemenswaardige bydrae tot die ontwikkeling van plaaslike kunshandwerkers lewer.

Bel Loryn by 041 393 4844 om meer oor die handwerktent of borgskapgeleenthede uit te vind.

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

MTN Nelson Mandelabaai Splashfees