Ná ’n lang trek kruis en dwars deur die land, kom DJ Ossewa spesiaal terug Baai toe om hul splinternuwe DVD, wat einde verlede jaar hier opgeneem is, tydens Paasnaweek by die 19de MTN Nelson Mandelabaai Splashfees bekend te stel.
Piet Pompies, dié kommando se leier – wat op pad tandarts toe was toe ek hom gebel het – sê dis geen toeval dat hulle juis hierheen kom om te wys hoe hulle in die Danskraal gelyk en geklink het ten tyde van dié opname nie.
“Ons hou van PE en sy mense,” bieg hy. “Dis altyd lekker om in die Baai op te tree en ons konserte is nog net goed ontvang.
Hy sê hulle gaan daai Vrydagaand sommer ’n lekker mengelmoes van hul ou en nuwe treffers sing.
Dié boerklong het duidelik hare op sy tande, want hy is nie veel gepla oor die tandartsafspraak nie. Dit pla hom baie meer dat die Evageslag DJ Ossewa se manne as sekssimbole sien, “selfs al dra ons oorpakke en bottelpropbrille”.
“Glo my, ek weet nie hoe dit werk nie,” sê hy.
Die vier van hulle het volgens hom “per ongeluk” saam begin optree. “Ons moes saam op die verhoog gaan om mense te vermaak toe ons mekaar nie van Adam af geken het nie.”
Pompies sê hulle het dit goedgedink om ’n tema te kies, uitspattig aan te trek en op vermaak eerder as musikaliteit te fokus – seker vir die fokusslag dat hulle sulke dik brille moet dra!
Sedertdien toer hulle die land vol met meer as 150 vertonings per jaar. Hy sê hoewel hulle meeste van hul musiek self skryf en hulle as musikante geweldig oor die jare gegroei het, plaas hulle steeds baie klem op die vermaaklikheidsaspek van elke optrede.
“Mense moet waarde vir hul geld kry en ons wil hê hulle moet regtig voel hulle het ’n show gesien.”
Met ’n slagspreuk soos “Ossewa vir altyd” en gehore wat landwyd aan hul lippe hang, is dit nie moeilik om te sien dat dié boerseuns nog baie jare die Suid-Afrikaanse musieklandskap se wa deur die drif gaan trek nie.
Hul wenresep is geskoei op lekker Afrikaanse dansmusiek met ’n komiese, energieke vertolking. Konsertina, trekklavier, kitaar en mondfluitjie word op meesterlike wyse ingespan om tradisionele Afrikaanse musiek ’n splinternuwe, moderne aanslag te gee.
Daniël Jacobus – die DJ in DJ Ossewa – beskryf hul musiek as progressiewe, alternatiewe boere Afrikaanse opskopdansmusiek.
“Ons is entertainers wat daarop uit is om vir ons aanhangers die konsert van ’n leeftyd te gee en dis lekker om te sien dat drie generasies ons musiek saam kan geniet.”
Die Splashfees vind van 10 tot 13 April by Hobiestrand in Port Elizabeth plaas. Vir meer inligting, besoek www.splashfestival.com of bel die feeskantoor by 041 393 4844.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
MTN Nelson Mandelabaai Splashfees