Die liggies brand en die tinsel blink oral in die oorvol winkelsentrums terwyl Boney M in die gange weergalm, want Kersfees is om die draai.

En as jy, soos ek, jouself belowe het om al in Augustus jou Kersinkope te doen, wens jy nou seker ook dat jy dié voorneme gestand gedoen het.

Maar, helaas, too late she cries. Daar is reeds nie meer parkeerplek naby – of ver – van die sentrum af nie en dit lyk ook asof daar nou meer karwagte as ooit is.

Volkleurpamflette en boekies met geskenkvoorstelle stroom uit posbusse en kettingwinkels sit sommer hul specials in die winkelmandjies en trollies om jou met jou inkopies te help.

Ná nagte se getob oor wié geskenke moet kry – dis stap een – kan dit soms nog weke vat om by stap twee uit te kom. Dis waar jy moet besluit wat die uitverkorenes kry.

Stap drie is natuurlik om volgende jaar getrou aan jou kredietkaartrekening af te betaal.

Geskenke kan soms, selfs met die beste bedoelings, ’n verleentheid vir die gewer of die ontvanger veroorsaak.

Die Zippo-lighter wat jy vir jou oom in die Kaap laat graveer het, net om uit te vind dat hy twee maande terug opgehou rook het, verander jou goedbedoelde geskenk in ’n oogwink in ’n braaivleisvuuraansteker.

Vroue kla altyd dat dit so moeilik is om mansgeskenke te koop, maar het hulle al ooit ’n bietjie introspeksie gedoen?

Ek hoef seker aan geen man te verduidelik hoe onfeestelik sy feesseisoen sou wees indien hy die mooiste stel onderklere vir sy vrou twee groottes te groot of te klein sou koop nie!

Lekkerruikgoed kan ook – behalwe hooikoors – verhoudingsprobleme veroorsaak wanneer jy, soos een van my kollegas, per ongeluk met die fancy name deurmekaar raak en jou eks of skoonsuster se gunsteling parfuum vir jou vrou koop.

Dan is daar natuurlik een van die grootste geskenkslaggate, naamlik herwinning. Hier skuil vangplekke om elke hoek en draai.

Jy kry die geskenk en dink, watter pragtige sakkie, ek moet dit hou sodat ek weer vir iemand ’n geskenk daarin kan gee.

Wanneer jy die klein kaartjie wat aan die handvatsel hang, oopmaak, staan daar tot jou afgryse die mooiste woorde wat nie aan jou gerig is nie en ook nie afkomstig is van die tannie wat nou net die geskenk gegee het (en jou op jou mond probeer soen het) nie. Duidelik het sy ook gedink dis ’n oulike sakkie om te herwin.

Maar herwinning gaan verder as net die verpakking en so is ek seker dat daar ’n reuse allokasie van geskenke is – dink maar byvoorbeeld aan daai platterige opdienbakke vir snacks – wat oopgemaak word en later weer inderhaas toegedraai word wanneer iemand skielik een benodig.

Wanneer jy oor die volgende twee weke in die winkels rondsnuffel en soms met ’n trollie van agter gestamp word of ’n parkeerplek, wat jy van ’n afstand af raakgesien het, aan ’n Transvaler moet afstaan, onthou net dat wanneer dit by geskenke in die algemeen kom, dit inderdaad die gedagte is wat tel en nooit meer so as juis met Kersfees nie.

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited