Dit is dus geen wonder nie dat dié energieke donkerkop ál die woorde en musiek vir al die snitte op sy twee CD’s self geskryf het nie.
Baaienaars sal baie van dié liedjies môreaand tydens een van twee marathon-buitelugkonserte by die Nelson Mandelabaai-sewes rugbyfees, wat by die Hoërskool Pearson in Somerstrand plaasvind, kan hoor.
Stefan deel dan die verhoog met sterre soos Kurt Darren en DJ Ossewa, terwyl Shine4, Wasserfall, die a capella-groep Flip-a-Coin en Eden vanaand die gehoor gaan trakteer.
Sy musikale invloede, sê hy, kom van die musiek af waarna sy ouers geluister het toe hy ’n tjokkertjie was. Hy beskryf sy musiekstyl bloot as Afrikaanse ruk en rol.
“Hulle het my aan ’n wye verskeidenheid musiek blootgestel, maar dis veral die invloede van Queen, Roy Orbison en Elvis wat my bygebly het.”
Hy het al voorheen in Port Elizabeth opgetree en sê dit is nie vir hom moeilik om te sien hoekom mense na die Baai as die “Vriendelike Stad” verwys nie. “Ek het nog elke keer vreeslik lekker saam met die mense gekuier en ek sien baie na my optrede uit.”
Stefan se suksesstorie het begin toe hy vir Big Brother Africa ingeskryf het. “Ek het gedink as hulle my sou kies, die blootstelling my kon help om my sangloopbaan te bevorder. Dis toe dat Lady Luck vir my geglimlag het.”
Sy instink oor die blootstellingsmoontlikhede van dié realiteitsprogram was in die kol, want kort hierna het die aanbod om in Frans Marx se Egoli op te tree, gevolg.
Hoewel hy al talle benoemings en pryse vir sy toneelspel ingepalm het, sê Stefan hy sien homself in die eerste plek as ’n sanger. “Ek het die toneelspel baie geniet, maar beplan om van volgende jaar af heeltyds op my sangloopbaan te fokus.”
Hy sê hy kan ongelukkig weens optredes in die Kaap nie vanjaar Kersfees saam met sy familie in Namibië vier nie, maar sal dié tyd gebruik om stil te raak en aan die werklike betekenis daarvan te dink en sy kop skoon te kry vir die jaar wat voorlê.
Hy beplan om sy derde album in die eerste helfte van die nuwe jaar vry te stel en is reeds druk aan die skryf hiervoor.
Dagkaartjies – wat die konserte, sewesaksie en 15-man feeswedstryde insluit – kos R75 vir volwassenes en R50 vir studente en is by die hek beskikbaar. Naweekpasse kos R150 by Computicket.
Vir meer inligting, besoek www.nmbs.co.za of bel Laurence Finn by 084 507 3175, Jacques Steyn by 083 458 4390 of die kantoor by 041 373 0908.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
Nelson Mandelabaai-sewes