In die meeste gevalle kry mens waarvoor jy betaal, maar met blitsige sewes-aksie, feeswedstryde en musiekkonserte, bied vanjaar se Nelson Mandelabaai-sewes jou tonne meer as wat geld kan koop.
Hierdie wêreldklas-toernooi, wat van 12 tot 14 Desember by die Hoërskool Pearson in Somerstrand plaasvind, sal die toon vir die somervakansie aangee en ure se pret en plesier vir die hele gesin verskaf.
Die Sewes se bemarkingsdirekteur, Laurence Finn, sê ongeëwenaarde vermaak is vanjaar weer ’n prioriteit.
“Vrydagaand sal Eden en Shine4 hier optree, terwyl Kurt Darren en DJ Ossewa Saterdagaand die skares sal vermaak. Hy sê plaaslike kunstenaars sal op beide aande die verhoog met die nasionale sterre deel.
Finn sê al die voorste sewestoernooie in die wêreld word geken aan hul vermaak. “Ons oogmerk is om nie nét ’n rugbyfees nie, maar ’n volbloed-gesinsfees aan te bied.”
Volgens hom kos ’n kaartjie vir die hele naweek – wat toegang tot al die konserte insluit – slegs R150 vir volwassenes en R90 vir skoliere en studente. “Dit is ongelooflike waarde vir geld.”
Vermaak vir die jongspan sluit Spur se kindersone in. “Min maatskappye verstaan kinders se vermaakbehoeftes so goed soos die Spur,” sê Finn.
Volgens hom gaan daar – soos by meeste van hul restaurante – onder meer Playstation-speletjies en springkastele wees. Spur gaan ook ’n reuse glybaan, ’n kloutermuur, meganiese bul en vierwiel-motorfietse verskaf.
Aangesien die klem op vermaak en ontspanning is, hoef ma’s hulle nie oor honger magies te bekommer nie. “Daar sal ’n indrukwekkende verskeidenheid eetgoed beskikbaar wees,” aldus Finn.
Spyskaarte sluit spitbraai, pannekoek, braaivleis, biltong, pasteie, pizza, Chinese roerbraai, Spur-burgers, sosaties en lekkergoed in.
Dagkaartjies by die hekke kos R75 vir volwassenes en R50 vir studente en skoliere (gratis vir kinders onder twee jaar). Naweekpasse is by Computicket beskikbaar.
Vir meer inligting, besoek www.nmbs.co.za of bel Finn by 084 507 3175 of Jacques Steyn by 083 458 4390.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
Nelson Mandelabaai-sewes