Ek dink mens sou met redelike sekerheid die stelling kon maak dat niemand alles weet nie, met die moontlike uitsondering van ma’s – natuurlik.
Party goed weet mens van altyd af; jy weet nie eers jy weet dit nie – soos om asem te haal. Dis nie iets wat jy in jou dagboek neerpen nie – jou brein sê sommer net vir jou lyf om dit te doen, en siedaar.
Tegnies speel dié stelling dan klaar met die term “suurstofdief”, want mens haal mos nie aspris asem nie, behalwe as jy ’n angsaanval kry. Maar dan hiperventileer jy omdat jou brein stééds vir jou lyf sê om asem te haal en nou voeter jy dit met ekstra asems op.
Dinge wat níémand weet nie, is waar kouse se vermiste maats en penne en lighters is.
Dan is daar goed wat party mense nie weet nie, maar behoort te weet, soos om jou hand voor jou mond te sit as jy hoes en proes en om nie wit sokkies by swart skoene te dra nie.
Ook is daar dinge waarvan jy weet wat jy liewer nie moet nie, soos die buurvrou se jong besoeker wanneer haar man op reis is.
Dinge wat net party mense weet, fassineer my die meeste. Só weet almal mos dat die kospryse saam met die petrolprys styg – dis tog commonsense – maar net those in the know weet hoekom kospryse nie saam met die petrolprys daal nie.
En kan iemand my sê hoekom jy nie skuld kan maak as jy nie skuld het nie? Dit laat my aan die Save the Whale-projek dink, want miskien is mense sonder skuld ’n bedreigde spesie en moet hulle ten alle koste vir die nageslag bewaar word.
Dan krap ek ook kop oor BTW wat mens moet betaal op geld wat jy nog nie ontvang het nie. Omdat mense nie meer tronk toe gaan vir skuld nie – seker weens ’n tekort aan beddens – is die kanse dat jy al daai geld ooit gaan sien, baie skaars.
Ek verstaan banke moet ook geld verdien; hulle is ten einde laaste tog nie liefdadigheidsorganisasies nie. Waarmee ek sukkel, is dat mens moet betaal om jou geld te bank en weer as jy dit wil gebruik.
En as jy sê nou maar by die groen bank is en jy trek by die blou bank se kitsbank, rook hulle jou behoorlik. Ek wonder of die bloues en die groenes dan daai winste deel?
Ons almal weet dis nie maklik om ’n kar te maak nie. Party mense doen dit in hul agterplaas, maar mens vang hulle altyd uit. “A-ha! Veselglas!”
Karre word in fabrieke gemaak, baie daarvan in Suid-Afrika en dis fantasties. Baie word uitgevoer en dis ook fantasties.
Wat onfantasties en onverstaanbaar is, is dat hierdie karre – wat halfpad om die wêreld moes reis – vir minder geld oorsee verkoop word as 10km van die fabriek af.
Miskien is die antwoord bloot dat daar altyd meer vrae as antwoorde is. En dat mens sommige dinge maar net moet aanvaar – soos swaartekrag.
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited