Pas uitgetrede Springbokke soos Breyten Paulse en Bob Skinstad sal die horlosie terugdraai wanneer hulle by vanjaar se Nelson Mandelabaai-sewes die SA Rugby Legends in ’n 15-man vertoonwedstryd teen die Grey Old Boys verteenwoordig.
Paulse (Stormers) en Skinstad (Sharks) se name verskyn op die lys van die amptelike groep wat gister deur die bestuur van die SA Rugby Legends bekend gemaak is.
Die Legends kom op die tweede dag (13 Desember) van dié driedaagse toernooi by die Hoërskool Pearson teen die Grey Old Boys te staan.
Ander voormalige Boksterre in dié groep sluit spelers soos Robbie Kempson (Stormers), Deon Kayser (Sharks), Tinus Linee (Stormers), Braam van Straaten (Stormers), Anton Leonard (Bulls), Dave von Hoesslin (Sharks) en Ricardo Loubscher (Sharks) in.
Die kaptein vir dié moet-wen stryd is nog nie aangewys nie, maar die voormalige Skot en Bokhaker John Allen sal die breier wees.
Jacques Steyn, die Nelson Mandelabaai-sewes se direkteur van rugby, sê die Old Boys het nog nie hul finale groep aangekondig nie. “Baaienaars sal hulle egter gereed kan maak vir ’n hele rits voormalige provinsiale spelers.”
Die Legends het onlangs met die louere by die Golden Oldies World Rugby Festival in Edinburgh, Skotland, weggestap en word allerweë as die wêreld se bestes beskou. Hulle het inderdaad, volgens Steyn, nog nooit ’n wedstryd van enige aard verloor nie.
Die naaste wat hulle daaraan gekom het, was juis in die vorige kragmeting tussen dié twee spanne wat twee jaar gelede in die Baai plaasgevind het. Toe was dit, net soos in die 1995 Wêreldbeker, die geleerde skopskoen van Joel Stransky wat die besoekers in die doodsnikke tot ’n oorwinning gelei het.
“Die wedstryd tussen die Legends en die Old Boys sal ongetwyfeld die hoogtepunt van die vertoonwedstryde wees,” sê Steyn. In die ander wedstryde sal die Old Boy-spanne van Framesby en Andrew Rabie mekaar pak en Pearson sal Alexander Road die stryd aansê.
Besoek www.computicket.co.za om kaartjies te bespreek. Vir meer inligting, bel Laurence Finn by 084 507 3175 of besoek www.nmbs.co.za.
Die Burger is ’n amptelike mediaborg van die sewes.
Die volledige Legends-groep: Dan Mafuko, Andile Nyembezi, Evert Ferreira, Wessel Lightfoot, Robbie Kempson, Steyn Swart, Barry Pinnock, Johann Kapp, Adri Geldenhuys, Mark Wood, Bob Skinstad, Thobile Mtya, Anton Leonard, Bennie Jacobs, David von Hoesslin, Neil Cole, Quintin Daniels, Breyton Paulse, Marc Watson, AC Prinsloo, Deon Kayser, Tinus Linee, FA Meiring, Brett Hennessy, Brian Matthews, Wayne Weyer, Monde Tyaliti, Chivago Breda, Henry Pedro, Andries Fourie, Riaan Swartz, Ricardo Loubscher, Trevor Halstead
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Names:
Nelson Mandelabaai-sewes