Aan die einde van die reënboog is daar volgens oorlewering ’n pot vol goud, maar aan die einde van die jaar is daar net één ding wat oorbly voor jou bonusgeld deur Kersinkopies ingesluk word – ’n jaareindfunksie.

Ja, min woorde in die werkplek ontlok soveel gemengde gevoelens soos dié anglisisme. Dit is dan ook geen wonder nie dat werkplekke se afsluitingsgesellighede selde twee jaar na mekaar dieselfde gedaante aanneem.

Die rede hiervoor is eenvoudig, want, soos die Ingelse sê, you can’t please all the people all the time en as dit by dié geleenthede kom, is dit bykans onmoontlik om selfs sommiges die helfte van die tyd tevrede te stel.

Die laaste saadjie van die jaar ontkiem gewoonlik iewers in ’n raadkamer waar onskuldig navraag gedoen word oor die funksie se datum.

Wind uit die grootbaas se seile, blaai hy verwoed deur sy dagboek en kies die Donderdag wanneer sy vrou en kinders ry om by sy skoonmense in Brakpan te gaan kuier – nie aspris nie, dis die enigste oop datum (sê hý).

Die kommentaar kom jaar na jaar van dieselfde mense af, maar om dit interessant te hou, bied hulle darem gewoonlik variasies op hul klagte-temas en wens mens hulle kon hul werk met ewe veel kreatiwiteit aanpak.

Die twee doodsondes van die jaareindfunksie is ongetwyfeld of dit mét of sonder tema moet wees (dink Halloween, Sixties, Mafia, ensovoorts) en of werknemers metgeselle moet saambring al dan nie.

Omdat die baas se vrou in Brakpan gaan wees en sy mooi persoonlike assistent onlangs met haar kêrel uitgemaak het, verstaan hy nie werklik hoekom daar mense is wat hul metgeselle wil saamsleep nie.

Die nuwe outjie is min gespin, want hy beplan in ieder geval om elfuur klub toe te gaan, so die gratis drankies is vir hom baie meer werd as ’n mooi poppie aan sy sy.

Ou Oom Gawie sê hy gaan nié kom as sy vrou nie kan saamkom nie en die blondekop wat nou die dag getroud is, voel sy pyn en is amper gereed om ’n petisie op te stel – dis tog juis één van die redes hoekom sy getrou het, om nie altyd alleen by funksies te wees nie.

Dan is daar diegene wat (on)gelukkig getroud is. Hulle is verlig om niemand saam te neem nie en raak gewoonlik roekeloos by geleenthede soos dié.

Nog ’n denkskool is dié wat voel die geld per kop kon eerder by hul bonus bygelas word. Dis diegene wat ook hul tweedehandse goedere eerder sal verkoop as om dit vir die armes te skenk.

Maar benewens al die gekibbel en gekonkel wéét mens instinktief dat om ’n einde aan dié tradisie te maak, bykans krimineel sou wees. Want daar is gewoonlik ná die soort funksie ’n spontane losheid in die gebou en ’n samehorigheid wat mens laas op die skoolbanke ervaar het.

Party se koppe is nog effens seer, maar almal weet reeds dat die samesyn van die vorige aand – en die foto’s op die webtuiste – nog lank sal help om die wa op somber werkdae deur die drif te trek, selfs diep in die nuwe jaar in.

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited