Mense in die kalklig sê dikwels om op die regte tyd op die regte plek te wees, het die verskil in hul loopbane gemaak.

Dis ook die geval met Blake Atherton (19), wat “per ongeluk” verlede jaar tydens die laaste proewe vir die Nelson Mandelabaai-sewes se ontwikkelingspan op die veld gedraf het.

Atherton, wat vanjaar weer vir die Junkyard Dogs se o.19-span by dié toernooi diens sal doen, is laas jaar deur een van sy Grey-maats genooi om saam met dié ontwikkelingspan te kom oefen.

“Die skool se rugbyseisoen was klaar en ek het gedink dit sou lekker wees om bietjie sewes te speel. Min het ek geweet dat dit die laaste dag van die proewe vir die Junkyard Dogs was!”

Atherton, wat nou vir die Crusaders se eerstespan vleuel speel, is toe in die span ingesluit wat verlede jaar die plaatfinaal van die Baai se sewestoernooi gewen het. Hy sê hierna het die rugbydeure sommer vinnig vir hom begin oopgaan.

“My betrokkenheid by die Junkyard Dogs en by die sewes se ontwikkelingsprogram het my ongelooflik gebaat. Die organiseerders het my onder hul vlerk geneem en my gehelp om die beste speler te wees wat ek moontlik kan wees.”

Hy sê indien iemand sou wonder of sulke ontwikkelingsprogramme meriete het, hulle maar net na hom as sprekende voorbeeld moet kyk.

“Voor ek by hulle aangesluit het, kon ek nie eers my skool se eerstespan haal nie en nou (’n jaar later) speel ek vir Crusaders se eerstespan.”

Jacques Steyn, die Nelson Mandelabaai-sewes se rugbydirekteur, sê hulle is baie trots op Atherton se prestasies.

“Dit is ongelooflik bevredigend wanneer talent raakgesien en ontgin kan word. Daar is baie spelers soos Blake in ons Junkyard Dog-spanne wat dit nog baie ver in rugby gaan bring.”

Atherton het ’n passie vir sewesrugby en wil graag eendag met die groen-en-goud vir dié blitsige spel op die veld draf.

Hy sê sewesrugby – veral wanneer dit by agterlynspel kom – is ’n uitstekende leerskool vir die 15-man spel, aangesien die tempo soveel vinniger is.

Die Nelson Mandelabaai-sewes vind van 12 tot 14 Desember by die Hoërskool Pearson in Somerstrand plaas.

Vir meer inligting, besoek www.nmbs.co.za of bel Laurence Finn by 084 507 3175 of Jacques Steyn by 083 458 4390.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Names:

Nelson Mandelabaai-sewes