Son, see en sewes sal aan die orde van die dag wees wanneer die derde jaarlikse Nelson Mandelabaai-sewestoernooi van 12 tot 14 Desember by die Hoërskool Pearson in Somerstrand plaasvind.

Spelers van so jonk as 10 jaar en van sover as Engeland en Frankryk gaan vanjaar hul staal by dié wêreldklas-sportgebeurtenis wys.

“Die wêreld se beste sewestoernooie word geken aan die vermaak wat hulle bied,” sê Jacques Steyn, Nelson Mandelabaai-sewes se direkteur van rugby. “Die wenresep is om die toernooi in ’n ware gesinsfees te omskep.”

Eden en Shine4 sal op die Vrydagaand (12de) optree, terwyl Kurt Darren en DJ Ossewa die skares op die Saterdagaand (13de) sal vermaak. Plaaslike kunstenaars sal op beide aande die verhoog met dié nasionale sterre deel.

Steyn sê SA Rugby se span word vanjaar die SA Vipers genoem. Dié span het verlede jaar se toernooi onder die naam van die Opkomende Springbokke gewen en verdedig volgende jaar hul wêreldbeker-titel in Dubai.

Benewens Suid-Afrika se sewes-supersterre, sal spanne van Frankryk en die Verenigde Koninkryk ook in die Baai kom kragte meet.

Volgens Steyn sal provinsiale spanne van die Griekwas, Oostelike Provinsie, Grens en die Goue Leeus ook hier uitdraf. Universiteitspanne van Gauteng en die Vrystaat asook die Dragons – ’n  uitnodigingspan van die Bloubul-voedarea – het reeds aangedui dat hulle ook aanspraak op Nelson Mandelabaai-sewes glorie wil maak.

Die nasionale Korrektiewe Dienste-span, wat twee jaar terug in die finaal verloor het en onlangs die polisie en brandweer se wêreldspele gewen het, is een van die groot gunstelinge.

Afgesien van die seniorafdeling, sal jonger spanne in die o.11, o.13, o.15 en o.19 kategorieë kragte meet.

Die volgende spanne het reeds hul deelname bevestig:

o.19 – Alexandria, Andrew Rabie, @lantic, Brandwag, Cillié, Despatch, Ezee Fana Dragons, Framesby, Grey (Unicorns), Junk Yard Dog, Lynx, Lynx-ontwikkeling, Marlow, Molly Blackburn, Pearson en die Buccaneers.

o.15 – Altona, Brandwag, Ezee Fana Dragons, Framesby, Grey PE, Junk Yard Dog-uitnodiging, Lynx Rugby, Macdonald-uitnodiging, Marlow, Pearson en Skymag.

o.13 – Alexandria, Altona, Ezee Fana Dragons, Junk Yard Dog, Lorraine en Sunridge.

o.11 – Altona, Charlo, Ezee Fana Dragons, Junk Yard Dog-uitnodiging, Lorraine en Seyisi.

Steyn sê die o.19-afdeling, wat verlede jaar deur die Walliese Urdd-span gewen is, sal vanjaar weer groot belangstelling lok.

Die sewes se bemarkingsdirekteur, Laurence Finn, sê hulle bied met die Spur-kindersone vanjaar ’n naweek van ongeëwenaarde vermaak vir die jonger garde.

“Min plekke verstaan kinders se vermaakbehoeftes so goed soos die Spur. Hulle gaan onder meer Playstation en springkastele verskaf.”

Hy sê dié sone sluit ook ’n reuse glybaan, kloutermuur, meganiese bul en vierwiel-motorfietse in.

’n Kaartjie vir die hele naweek – wat toegang tot al die konserte insluit – kos R150 vir volwassenes en R90 vir skoliere en studente.

Naweekpasse is by www.computicket.co.za beskikbaar. Vir meer inligting, besoek www.nmbs.co.za of bel Finn by 084 507 3175 of Steyn by 083 458 4390.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

Nelson Mandelabaai-sewes