Die jaarlikse Sherwood Garden Centre-lentefees het gister in die Baai afgeskop en mense moet hul gereed maak vir ’n tuinskouspel en ander bedrywighede sonder gelyke.
Benewens Suid-Afrika se bekroonde Chelsea-blommefees-uitstalling, sal daar ’n wye verskeidenheid stalletjies, uitstallings en ander vermaak wees, sê Carmel Wolf van dié kwekery.
Sy sê hulle het spesiaal vanjaar aandag daaraan gegee om te verseker dat oud en jonk die fees, wat tot 26 Oktober duur, gate uit sal geniet.
’n Lyfverf-demonstarsie deur kunsstudente van die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Universiteit (NMMU), wat vandag (Saterdag) van 9vm tot 1nm plaasvind, is volgens haar beslis een van die naweek se hoogtepunte.
Wolf sê besoekers sal dié “kunswerke” se vordering van die eerste tot die laaste kwashaal kan dophou. “Ná die modelle se lywe klaar geverf is, sal hulle met bykomstighede getooi word en dan deur die kwekery paradeer.”
Algoa FM sal hierdie naweek twee buite-uitsendings van die fees af doen. Lance du Plessis is vanoggend tussen 9vm en 12nm aan die woord en Charl Leslie dieselfde tydgleuf môre.
Angie Franke bied vandag en môre om 10vm ’n gratis tuinkunsdemonstrasie in die lesinglokaal aan en om 11vm vandag kan geesdriftiges naderstaan om meer oor die kuns van bonsai-boompies te leer.
Lindsay Gray praat vandag om 2.30nm oor die belangrikheid van vorm en struktuur in die tuin en môre op dieselfde tyd oor die moets en moenies van tuinonderhoud. Kaartjies vir haar praatjies kos R65.
Môre om 12nm sal besoekers touwys gemaak word oor rose en om 12.30nm is daar ’n orgidee-plantdemonstrasie in die lesinglokaal.
Studente van die NMMU was ook betrokke by die ontwerp van die feesstalletjies. Wolf sê stalletjies sluit erdwurms, tuindambehandelings, sintetiese gras, mosaïek, plaveisel, tuinsorg en aquaponics in.
Daar sal ook bonsai-, orgidee-, clivia- en koekversieruitstallings wees. Ander hoogtepunte sluit 11 klein tuine deur plaaslike tuinboukundiges en ’n wynproe-aand in.
Volgens Doug Pudney, van Frontier Events, sal daar letterlik iets vir almal wees. Hy sê daar sal gratis kindervermaak – wat gesigverf, hansworse en ballonne insluit – oor die naweke wees.
Die Khoisan-teetuin en ’n koffiekroeg in die hoofgebou sal deurgaans oop wees vir ’n bietjie lafenis.
Vicki Rothman, Oos-Kaapse hoof van publisiteit by Die Burger, sê lesers moet beslis nie die naweek se feespret misloop nie. “Om die lente te vier, kry lesers wat gedurdende die lentefees op Die Burger inteken, ’n R100-geskenkbewys van Sherwood Garden Centre.”
Toegang tot die fees, wat daagliks tussen 8.30vm en 5nm oop is, is gratis.
Vir meer inligting, of om kaartjies vir praatjies te bespreek, skakel Sherwood Garden Centre by 041 398 4400 of Carmel Wolf by 074 179 5955.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
Sherwood Garden Centre
Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management