Ek het ’n heilige vrees vir Ander Entjie Mense.

Dis nou die tipe wat graag sinne soos: “Jy ken my, ek sê ’n ding nes hy is”, sonder skroom en baie berekend luidkeels uitbasuin.

Die waarheid, volgens my, is egter dat dié tipe mense oor ’n tydperk van innerlike ontevredenheid ’n skans van oënskynlike selfvertroue opgebou het, en nou, as verdedigingsmeganisme, hulself die reg toe-eien om met ’n skerp tong en baie verdagte bedoelings tot diep in die vlees van onskuldige slagoffers te boor.

In enige werksituasie steek hierdie naarheid ook kop uit. Ek praat nie nou van kantoorpolitiek of onvermydelike situasies met moeilike kliënte waar jou konflikhanteringstegnieke beproef word nie – want enigeen kan dié tipe onderonsies tot ’n mate hanteer en verwerk.

Maar met Ander Entjie Mense is daar nie reëls nie. Hulle gooi gemaklik ’n bak koue water in jou gesig met ongegronde, onsensitiewe en baie onnodige woorde en terwyl jy op die naat van jou rug lê nadat die mat onder jou uitgeruk is, skroom hulle nie om jou verder te vertrap nie.

Sedert ek myself in die werksmilieu bevind, het ek gesien dat hierdie mense dit nodig ag om baie diep in jou karakter in te klim. Vergete is die goue reël van “takel die situasie, eerder as die mens”, want hul bloeddorstigheid ken nie dié menslikheidsgrense nie.

Jou integriteit; jou waardes; jou menswees – alles word binne ’n vurige oomblik deur ’n oningeligte, onrealistiese opinie met soveel afgryse aangetas dat jy self begin wonder oor jou opregte optrede . . .

Dan moet jy verbete klou aan alles wat jy weet: draai maar die ander wang ook; vergewe en vergeet; bou bruê eerder as mure . . .  En jy, die sagter siel, is maar weereens die een wat met jou stilswye ’n skietstilstand probeer propageer.

Want, sien, dié kalante floreer mos op die geringste sweempie van reaksie. Maar wees gewaarsku: stilbly is ook ’n antwoord (waarop baie van hulle natuurlik sal reageer!).

Pak jy later uit by vriende of kollegas, kom die massakoor: “Maar staan op vir jouself; sê vir hom (of haar) presies wat jy dink!”

Maar in die stilte van my eie kop, besef ek ek wil nie. Ek wil nie skree nie; ek wil nie kwaad wees nie.

Ek wil bloot nie tot op Ander Entjie Mense se kommunikasievlak daal nie. Of myself verlaat op ’n terrein waar ek myself sal verloën nie – dit sou weliswaar impliseer dat ek boonop onprofessioneel moet optree . . .

Dit het niks te doen met die feit dat ek nie vir myself kan opstaan nie. Negatiewe energie is net nie ’n opsie nie!

As jy, soos ek, die besluit geneem het om jou aan Ander Entjie Mense te onttrek, glo ek jy is beter af, want ’n gesegde soos “behandel ander soos jy behandel wil word”, sou nie die toets van die tyd deurstaan het, as dit niks beteken het nie.

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited

Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management