Elke werkomgewing het sy eie taal. Dis nou nie soos Xhosa of Spaans nie, maar wel ’n soort dialek wat net deur diegene wat daar werk, verstaan word.

Partykeer het dit te doen met die aard van die besigheid, soos wanneer drukkers en grafiese ontwerpers praat van dots per square inch en CMYK of bekarkingsghoeroes van below the line en LSM.

Ander kere is dit neologismes waarmee werknemers vorendag kom om makliker te kan skinder, sodat die mure se ore nie ’n idee het waarvan of oor wie hulle praat nie.

Saam met die nuwe dialek, kom daar dan gewoonlik ook ’n nuwe stel name vir sommige personeellede. Hier is daar twee soorte: die name wat gebruik word wanneer jy met iemand praat en dié wanneer jy oor iemand praat.

In die met-kategorie sal Johan byvoorbeeld Jo word. In die oor-kategorie sal die rooikopbestuurder se naam Ginger wees en die kort vroutjie wat met die rekeninge werk, die Midget Control Freak.

Met kantoortaal gaan dit alles oor tyd en plek. Wanneer jy in die kombuis van die grootbaas praat, noem jy hom beslis nie Meneer Ntuli nie, net soos jy hom ook nie in die raadkamer aan besoekers as His Royal Highness voorstel nie – behalwe natuurlik as jy vir prins Charles werk, maar dan sou als wat jy met jou Suid-Afrikaanse aksent sê in ieder geval vir die Pommies na Grieks klink.

Dit kan ook gebeur dat nuwe sêgoed vir altyd in die volksmond bly. Alles moes tog iewers vandaan gekom het en iemand moes dit vir die heel eerste keer gesê het tot almal naderhand geweet het wat dit beteken om “’n stuiwer in die armbeurs te werp”.

So het ’n akteprokureur van Rustenburg se niggie meer as dertig jaar gelede onwetend ’n gesegde in die volksmond – al is dit dan nou net dié gedeelte van die volk wat in Rustenburg bly – gelê.

Die vierjarige niggie het saam met haar ouers op Rustenburg gekuier. Haar ma het steen en been by haar skoonsuster gekla dat die niggietjie vir die soveelste maal na ’n fancy dress-kinderpartytjie uitgenooi is.

Die ma was al moedeloos om idees uit te dink en al die ou konsertkostuums van hula-meisie tot blink-blou-reëndruppeltjie was teen daardie tyd al tam gedra.

Maar, ’n ander dorp het tog ander skoolkonserte en so kom die tannie toe tot die ma en die niggie se redding. Sy het die mooiste Hollandse uitrusting uit die kelder opgediep, kompleet met wit gepunte hooftooisel.

Hulle het die niggietjie in die klere ingehelp en was in hul noppies met die resultaat. Selfs die vierjarige was in haar skik – en dit gebeur nie aldag nie.

Later die dag, met die Hollandse konsertgewaad veilig opgevou vir die eksodus terug Bloemfontein toe, het die tannie die niggie eenkant toe geroep en gesê sy moet nou nie in die versoeking beland om vir iemand te vertel hoe haar uitrusting vir die partytjie lyk nie. “Dit moet ’n verrassing wees,” het sy gesê.

Die niggie se plegtige belofte aan haar tante is net daar in ’n eg-Rustenburgse gesegde verewig.

Van toe af – tot vandag toe nog – wanneer jy iets vertoulik vir iemand op Rustenburg vertel en vra hulle moet asseblief vir niemand sê nie, slaan hulle heel waarskynlik terug met: “Ek sal nie eers Hol sê nie”.

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited

Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management