’n Fees van naweekvermaak wag op Baaienaars wanneer Sherwood Garden Centre se jaarlikse lentefees vandag (Vrydag) in volle blom in die Baai afskop.
Suid-Afrika se bekroonde Chelsea-blommeskou-uitstalling, geborg deur Eerste Nasionale Bank, is die hoogtepunt van dié jaarlikse fees wat tot 26 Oktober duur. Hierbenewens sal daar egter, volgens Carmel Wolf van die Sherwood Garden Centre, ’n wye verskeidenheid tuinuitstallings, aktiwiteite en vermaak wees.
Stalletjies sluit erdwurms, tuindambehandelings, sintetiese gras, mosaïek, plaveisel, tuinsorg en aquaponics in, en volgens Wolf was kunsstudente van die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Universiteit betrokke by die ontwerp daarvan.
Afgesien van dié stalletjies, sal daar ook bonsai-, orgidee-, clivia- en koekversieruitstallings wees. Ander hoogtepunte sluit 11 klein tuine deur plaaslike tuinboukundiges, ’n wynproe deur Pick n Pay en tuinpraatjies in.
’n Lyfverf-demonstrasie deur plaaslike kunsstudente is nog ’n nuutjie op die program. Dit sal van 9vm tot 1nm op Saterdag 25 Oktober plaasvind.
“Ná die modelle se lywe klaar geverf is, sal hulle met bykomstighede getooi word en deur die kwekery paradeer,” sê Wolf.
Sy sê die Oos-Kaapse radioreus, Algoa FM, sal dié naweek twee buite-uitsendings vanaf die fees doen. Lance du Plessis sal Saterdag van 9vm tot 12nm en Charl Leslie Sondag van 9vm tot 12nm aan die woord wees.
Die Laerskool Lorraine gaan ’n eie tuintjie vir die fees uitlê en die Hoërskool Pearson se kunsleerders gaan hoede met die tema “The Heat is On” – wat ook die tema van die Chelsea-uitstalling is – uitstal.
Die lentefees sal egter ook ’n lushof vir kinders wees. Gratis kindervermaak oor die naweke sluit gesigverf, hansworse en ballonne in.
Die Khoisan-teetuin en ’n koffiekroeg in die hoofgebou sal deurgaans oop wees vir ’n bietjie lafenis, aldus Doug Pudney van Frontier Events, wat agter die skerms help om die fees te koördineer.
Die lentefees is daagliks tussen 8.30vm en 5nm oop en toegang en parkering is gratis. Vir meer inligting, bel Sherwood Garden Centre by 041 398 4400 of Carmel Wolf by 074 179 5955.
Uitgereik deur:
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
Sherwood Garden Centre
Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management