Indien die beste dinge in die lewe gratis is, onderskryf Suid-Afrika se bekroonde Chelsea-blommeskou-uitstalling, wat tot Sondag by die Sherwood Garden Centre se lentefees te sien is, beslis dié gesegde.

Baaienaars het nog nét die naweek ’n kans om dié uitstalling – wat allerweë as die hoogtepunt van die fees beskou word – van nader te beskou.

Carmel Wolf van die Sherwood Garden Centre sê bykans 15 000 mense het reeds vanjaar na die uitstalling en lentefees gestroom.

Dis die tweede jaar dat die Chelsea-uitstalling by die lentefees opgerig is en Wolf sê Port Elizabeth is die laaste stop op die uitstalling se nasionale toer.
 
Benewens dié uitstalling, is daar ’n wye verskeidenheid tuinuitstallings en aktiwiteite, aldus Wolf.

’n Lyfverf-demonstrasie deur kunsstudente aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU), wat môre van 9vm tot 1nm plaasvind, is volgens haar beslis een van die naweek se hoogtepunte.

“Besoekers kan die lyfverf-‘kunswerke’ se vordering van die eerste tot die laaste kwashaal dophou,” sê die organiseerder, Doug Pudney van Frontier Events. “Ná die meisies se lywe klaar geverf is, sal hulle met bykomstighede getooi word en dan deur die kwekery paradeer.”

Vandag (Vrydag) om 3nm bied Kim Tucker ’n praatjie oor kruie aan. Kaartjies hiervoor kos R45.

Môre (Saterdag) se program is stampvol. Om 9.30vm bied Angie Franke ’n gratis tuinkunsdemonstrasie in die lesinglokaal aan en om 11.30vm sal besoekers oor rose touwys gemaak word.

’n Gratis bonsai-demonstrasie om 11vm word gevolg deur Mimi Rupp van Smartstone se plaveiselwenke. Kaartjies vir Rupp se praatjie kos R45.

Om 2.30nm is Anna Cilliers, redakteur van Die Tuinier, aan die woord met potplant-idees. Dit kos R65 om dié praatjie by te woon.

Sondag bied Franke weer haar tuinkunsdemonstrasie aan en om 12nm is daar ’n suikerkunsdemonstrasie in die lesinglokaal. Om 2.30nm praat Karen Scott van Malanseuns oor hul nuutste plantreekse.

Studente aan die NMMU was ook betrokke by die ontwerp van die feesstalletjies. Wolf sê stalletjies sluit erdwurms, tuindambehandelings, sintetiese gras, mosaïek, plaveisel, tuinsorg en aquaponics in.

Afgesien van dié stalletjies, sal daar ook bonsai-, orgidee-, clivia- en koekversieruitstallings wees.

Die lentefees is daagliks tussen 8.30vm en 5nm oop. Vir meer inligting of om kaartjies vir die praatjies te bespreek, bel die Sherwood Garden Centre by 041 398 4400 of Carmel Wolf by 074 179 5955.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

Sherwood Garden Centre

Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management