Baaienaars kry van môre af die geleentheid om met van die land se voorste tuinboudeskundiges skouers te skuur, wanneer die Sherwood Garden Centre se jaarlikse lentefees hier afskop.
Behalwe vir ’n replika van Suid-Afrika se bekroonde Chelsea-blommeskou-uitstalling wat groot belangstelling behoort te lok, sal talle sprekers die publiek deurgaans aan hul lippe hê, se Carmel Wolf van die Sherwood Garden Centre.
Sy sê sprekers, wat Anna Cilliers, redakteur van Die Tuinier, en Kirstenbosch se Ray Hudson en David Davidson (wat die Chelsea-uitstalling ontwerp het) insluit, sal oor talle interessante onderwerpe gesels.
Cilliers, wat haar potresepte gaan deel, maak interessante voorstelle rondom plantkombinasies terwyl Lindsay Gray, tuinontwerpskool-prinsipaal, oor inspirasie vir die tuin en oor die moets en moenies van tuinonderhoud gesels.
Hudson en Davidson se praatjie sal grootliks oor die Chelsea-uitstalling gaan en hoe hulle te werk gegaan het om dit te ontwerp en te bou. Hulle sal ook ’n skyfievertoning oor dié Chelsea- en Singapoer-skoue wys.
Karen Scott van Malanseuns gaan meer oor nuwe plantvrystellings vertel en Mimi Rupp van Smartstone sal raad oor plaveisel gee. Mense wat graag ’n eie kruietuin wil aanlê, moet naderstaan as Kim Tucker haar kruiekennis deel.
Wolf sê om teleurstelling te voorkom, moet mense vinnig spring om kaartjies vir die gassprekers se praatjies te bespreek.
Eerste Nasionale Bank (ENB) en die Sherwood Garden Centre, in samewerking met Die Burger, sorg dat die Chelsea-blommeskou-uitstalling – wat vanjaar sy 29ste goue medalje en die Royal Horticultural Society se presidentsprys vir die mees kreatiewe uitstalling in London gewen het – op eie bodem pryk.
Vicki Rothman, Oos-Kaapse hoof van publisiteit by Die Burger, sê dié dagblad gaan beslis saam fees vier.
“Lesers wat gedurdende die lentefees op Die Burger inteken, sal ’n R100-geskenkbewys van Sherwood Garden Centre ontvang.” Sy sê mense kan ook namens iemand inteken as Kersgeskenk.
Wolf sê stalletjies by vanjaar se fees sluit erdwurms, tuindambehandelings, sintetiese gras, mosaïek, plaveisel, tuinsorg en aquaponics in.
Afgesien van dié stalletjies, sal daar ook bonsai-, orgidee-, clivia- en koekversieruitstallings wees.
Ander hoogtepunte sluit 11 klein tuine deur plaaslike tuinboukundiges, ’n lyfverfdemonstrasie en ’n wynproe – wat deur Pick n Pay en Die Burger aangebied word – in.
Algoa FM sal Saterdag en Sondag van die fees af uitsaai.
Die lentefees is tot 26 Oktober daagliks tussen 8.30vm en 5nm oop en toegang is gratis. Vir meer inligting, bel die Sherwood Garden Centre by 041 398 4400 of Carmel Wolf by 074 179 5955.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
082 575 7991
041 368 4992
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
Sherwood Garden Centre
Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management