Met ’n goeie boek voor my, probeer ek op my eie bestemming kom nog voor die vliegtuig opstyg.
Maar dis ’n uitdaging, want die vrou aan my linkerkant voer ’n monoloog oor die Zimbabwiese krisis en die oom regs wil weet of Port Elizabeth ook so bedompig soos Durban raak.
In die ry voor ons kreun die té-klein-sitplek teen die venster behoorlik soos ’n gesette dame haarself met moeite daarin forseer en ek kan nie help om haar effens jammer te kry nie. Dit is beslis ’n baie tight fit, soos die Engelse sou sê.
’n Lugwaardin met ’n ek-hoop-julle-voel-al-welkom-glimlag en ’n man, wat duidelik nors is, kom in die paadjie opgeloop en stop by die ry voor ons.
Die vermoede is dat daar ’n dubbelbespreking gedoen is en dat iemand op Die Norse se sitplek sit. Kaartjies word uitgeruil en dit is inderdaad die geval.
Dis die sitplek teen die venster – dié een waarin die dame haar netnou-net vasgemessel het.
Soos die situasie voor my afspeel, besef ek daar is geen manier hoe dié vrou in dié beknopte ruimte ten aanskoue van almal met enige eer uit daai sitplek gaan tree nie. Daarvoor het ek niks meer as gr.8-fisika en ’n baie basiese begrip van Newton se swaartekragwet nodig nie.
Ek gee vir die lugwaardin ’n sien-jy-wat-ek-sien-glimlag en bied my sitplek as vredesoffer aan. Die Norse wil egter opsluit langs die venster sit.
Die Durbaniet raak ook nou effe warm om die kraag en gee ’n paar ongemaklike kuggies om sy geïrriteerdheid te laat blyk.
“Dis my sitplek,” dring Die Norse steeks aan. Die tannie se oë pleit om genade, want sy wéét wat kom as sy nóú moet probeer opstaan – ’n grootse vernedring.
Sy byt moedig op haar onderlip en probeer haarself lig, maar die swaartekragwet skop gewetenloos in en sy sak moedeloos terug. Sy stop haar handsak oor die sitplek in my hande sodat beide hare vir die tweede probeerslag vry kan wees.
In my geestesoog sien ek hoe sweet op haar voorkop pêrel terwyl sy met een hand haar hare uit haar gesig probeer vee en met die ander haarself stu. Vergeefs.
Oor die ruglening heen vra sy my om die sitplekgordel onder haar lyf te soek sodat dié nie ook haar poging belemmer nie. Sonder veel sê in die saak, gee ek – in die naam van my medemens – gehoor aan haar desperate opdrag en duik sommer so bo-oor die lening tussen haar en die sitplek in met my hande en arms (en meeste van my bolyf) op soeke na die vermiste item.
Met my kop nou bykans onder haar boude, voel dit kompleet of ek op ’n slagtersblok lê. Later is haar volle gewig op my en ek snak na asem.
Sy bars in trane uit en vra snik-snik om verskoning. Met een oor wat uitsteek, hoor ek die Durbaniet sê-vra: “Waar is die diens in Suid-Afrika heen?”
Nodeloos om te sê – teen dié tyd het almal al hul Huisgenote neergesit om die toneel te aanskou. “Kwon twonnie gou wheer opstjaan,” vra ek met my wang wat in die donkerte aan die leersitplek vassit . . .”
My effense jammerte van vroeër verander nou in ’n innige jammerte vir die tannie. Want tussen die heen en weer, op en af, vorentoe en agtertoe, dink ek hoe boos Die Norse se gees moet wees om van haar te verwag om nóú só ’n sabbatsreis voor almal te móét voltooi. Net omdat hy nie die lugredery se swak diens wil duld nie, moet sy nou boet.
Die Norse – wat dink net omdat hy vir ’n diens betaal, hy alle redelikheid, menslikheid en goedgesindheid mag ignoreer – vererg hom so dat hy sy sit elders gaan kry. Hy gaan ’n brief skryf, hoor ek hom mompel.
Die tannie snik steeds toe ons land. Sy gee my ’n peperment om jammer en dankie te sê.
En dié hou ek nou langs my bed om my daagliks te herinner dat my optrede my nooit – ongeag die situasie – soos Die Norse s’n mag dryf om sulke swak diens aan my medemens te lewer nie.
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited
Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management