Elizabeth Place se spyskaart is vandeesmand volgepak met vermaak-lekkernye met Dowwe Dolla, Lize Beekman en Andriëtte wat ’n Baaise draai kom maak.
Dowwe Dolla, Margit Meyer-Rodenbeck se wulpse alter ego, is reeds in haar tiende jaar as teatertert en dramadommie.
In Saal 10 vier sy dit deur haar drieweke-graad in die “Medisyne” aan die Universiteit van Kuba te verwerf en dan terug te kom Suid-Afrika toe om die land reg te dokter. Gelukkig het haar kursus vier seisoene van Grey’s Anatomy ingesluit . . .
Saal 10 word voorgeskryf vir elke pasiënt wat teneergedruk is oor die land en dit nie kan bekostig om te emigreer nie. Reël jou afspraak met dr. Dolla op 12 September.
Lize Beekman se Sit ’n Bietjie Langs My gee die gehoor op 18 September ’n geleentheid vir terugsit en luister na die liedjies wat op haar nuwe solo-CD verskyn. Ná die sukses van Draadkar oor die See en die onlangse vrystelling van Lize Beekman Lullabies, heers daar groot opgewondenheid oor haar nuutste werk.
In dié vertoning word haar nuwe liedjies – alles oorspronklike musiek en lirieke uit die pen van dié bekroonde sanger-liedjieskrywer – met ou treffers afgewissel.
Beekman begelei haarself op kitaar en dit beloof, soos altyd, om ’n afgeronde musikale uitvoering en ’n intieme en sielvolle ervaring te wees. Sy sal op die 18de op die verhoog wees.
Andriëtte het die land ten tyde van die vierde Idols-reeks aan haar voete gehad. Haar ongelooflike stem en uistaande vertonings het gesorg dat mense reoor die land behoorlik regop gesit het; en dis nie om dowe neute dat Randall Abrahams, Idols-beoordelaar, haar as die beste deelnemer ooit bestempel nie.
Haar debuut-CD, Diamant, is oorwegend Afrikaans, maar sluit ook ’n paar Engelse snitte in. Meeste van die liedjies is spesiaal vir dié CD deur bekende liedjieskrywers soos André Swiegers en William Loots geskryf.
Vertonings begin om 7.30nm en Elizabeth Place se kombuis is reeds van 5.30nm af oop vir gaste wat verruklike disse van die a la carte-spyskaart af wil bestel.
Kaartjies vir al drie vertonings (Dowwe Dolla – R90; Lize Beekman – R80; Andriëtte – R90) is by die Westway Kafee beskikbaar. Bespreek by 041 365 0217.
Vir verdere navrae, bel Pieter Rademeyer Jr by 083 320 6228.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited & Elizabeth Place
Communications management | Media management | Media monitoring | Public relations | Press releases | Copywriting | Ghostwriting | Editing | Translation | Corporate identity | Advertising | Graphic design | Presentations | Photography | Events management