Kobie Potgieter, wat onlangs as die top eiendomsagent in die land aangewys is, wil nou haar nuutgevonde status as ’n platvorm gebruik om die Oos-Kaap as ’n internasionale beleggingsbestemming te bemark.
“My hart is in die Oos-Kaap. As ons beleggers hierheen lok, kan dit net positiewe gevolge vir die streek en sy mense op die lange duur hê,” sê dié ma van twee.
Potgieter was die enigste Oos-Kaapse verteenwoordiger by die negende jaarlikse Nedbank Property Professional-toekennings, wat op Hermanus plaasgevind het. Dié glansgeleentheid word as die Oscars van die nasionale eiendomsindustrie bestempel.
“Ek kan dit steeds nie glo nie!” sê sy oor die toekenning, wat waarskynlik die grootste eer is wat ’n agent in dié land te beurt kan val. “Van al die toekennings wat ek gelukkig was om oor die jare te kry, beteken dié een vir my die meeste.”
Potgieter verduidelik dat die verkoop van eiendomme haar motiveer. “Dit grens seker aan ’n verslawing,” sê sy met ’n glimlag.
“Toe ek vier huise in ’n maand verkoop het, wou ek kyk of ek die volgende maand by vyf kon uitkom. Van vyf af, was dit ses – en so het ek aangehou.”
Potgieter verkoop nou gemiddeld twaalf huise per maand.
Sy sê sy kan nie onthou presies hoe haar liefde vir die eiendomsmark begin het nie, maar dat sy nog altyd daartoe aangetrokke was. “En my passie vir die bedryf het deur die jare net gegroei.”
As die eienaar van Re/Max Independent, ’n plaaslike eiendomsagentskap, sien sy haarself as ’n mentor vir ander agente. “Dis seker die onderwyser in my,” skerts sy, met verwysing na haar eertydse loopbaan.
“Ek wil toeganklik wees en my kennis en ondervinding deel om ’n positiewe invloed op ander agente se loopbane, asook die eiendomsmark in sy geheel, te hê.”
Potgieter sê haar prestasies sou nie moontlik gewees het sonder die Here se genade en die ondersteuning van haar familie, vriende en kollegas nie. “In dié industrie kan mens nie in isolasie presteer nie,” sê sy.
“My man, Rudi, is my grootste ondersteuner. Hy het my destyds aangemoedig om ’n eiendomsagent te word.”
Sy is vroeër vanjaar as Nelson Mandelabaai se Sakevrou vir 2008 aangewys en is tans ’n finalis in ’n kompetisie wat die mees invloedryke sakevrou in die land soek.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
Re/Max Independent