Ons wat in die gasvryheidsbedryf werk, lag altyd lekker in ons mou – nadat ons onsself natuurlik eers in die stilligheid vererg het – wanneer mense hulle begin aanstellerig hou sodra hulle bedien word.

En dis gewoonlik diegene wat die minste gewoond is, wat jou die hardste op jou tande laat kners!

Ek het vriende – of nee, eerder kennisse (’n mens word mos aan jou vriende geken!) – wat glo hul name verander van Liesbet en Charles na Koningin Elizabeth en Prins Charles sodra hulle by ’n restaurant instap.

Hulle is salig onbewus van die verleentheid wat die res van die geselskap moet verduur, want almal aan tafel word onmiddellik deur die kelners en restaurantbestuurder oor dieselfde kam geskeer. Moeilike mense.

Dan oorkompenseer die res van ons en is vreeslik vriendelik, net om die arme kelner – wat nie verantwoordelik is as daar iets met die kos verkeerd is nie – die ongemaklike situasies te help oorleef. Ek hoef seker nie by te voeg dat, met dié tipe mense, daar omtrent met alles iets skort nie.

“Die snags is darem baie min,” laat hoor Koningin Elizabeth uit die hoek, toe ek op ’n slag saam met hulle gaan uiteet. “Snacks”, sê ek, maar ek kan sien dit registreer nie waar dit moet nie.

“Het die mense nie eers Carpitcho op hul spyskaart nie?” “Carpaccio,” sê ek. “En hoekom is die wyn so sleg?” Miskien omdat jy hopeloos te veel ys in jou rooiwyn gegooi het, dink ek.

Die arme kelner weet nie of hy Arthur of Martha is nie. Dan is die lugverkoeling té koud, dan té warm; die messe is nie behoorlik blink gevryf nie; die musiek té hard; die (goedkoop) wyn té duur; die kelner nie vinnig genoeg met die bestelling nie.

Ek sak al hoe laer in my stoel en bestudeer die spyskaart soos wat die spioene in flieks met koerante maak wanneer hulle nie raakgesien wil word nie . . .

Verder probeer Die Kennisse, wat plat Afrikaans is, die kelner (wat duidelik ook Afrikaans is) met hul beste posh Engels van bakboord na stuurboord stuur en vererg hulle dan bloedig vir sy Engelse uitspraak wat (na hul mening) nie op standaard is nie.

Ja, dis dieselfde mense wat papgekookte groente en ander brousels – nogal in papierborde en sonder servette (“ons hou dit sommer lekker informeel vanaand”) – aan hul gaste opdis! Sodra dié BBP’s by ’n restaurant instap, verwag hulle veel meer as net die son en die maan . . . want skielik is hulle die sterre!

Ek bekyk die spulletjie so en dink by myself: dit is mos onaanvaarbaar om so baie van jouself te dink dat jy verwag ander mense moet op en af spring oor jou blote teenwoordigheid.

Natúúrlik is goeie diens een van die belangrikste aspekte van enige onderneming, maar mense soos Die Kennisse het nie regtig ’n voet om op te staan wanneer dit by diens kom nie. Ek weet mos watse diens – of gebrek daaraan – ek kry wanneer ek om hul eetkamertafel aansit.

Ek weet ek betaal nie vir hul “diens” nie, maar ek glo ’n mens behoort nie ’n hoër standaard te verwag as wat jyself bereid is om te bied nie – en dit boonop ten koste van ander mense wat net ’n rustige aandjie uit wil geniet!

Elke keer neem ek my voor om nie weer ’n uitnodiging van hulle te aanvaar nie, maar as ek my weer kom kry, sit ek tamatierooi van skaamte in ’n restaurant waarheen ek nie weer op my eie wil teruggaan nie.

Maar, soos altyd, draai die wiel, want, sien, sodra die rekening kom, verdwyn die koninklikheid natuurlik soos die Ashes uit Engeland en tref die werklikheid van hul beperkinge hulle vierkantig tussen die oë . . .

En ek sien uit die hoek van my geestesoog hoe die restaurantbestuurder in sy mou lag wanneer hulle naarstiglik probeer uitwerk hoeveel elkeen moet betaal . . .

Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited