“Studente is nie mense nie,” merk volwassenes gereeld op, en van die vele redes hiervoor is beslis hul slinkse planne om geld te maak.
Baie beskou dié ondergrondse geldmaakskemas op kampusse as oneerlikheid, maar studente doen dit eenvoudig om oorlewing – sakgeld hou immers net tot ná karnavalnaweek!
En om entrepreneurskap so gou moontlik te bemeester, moet hulle buitendien ’n voorsprong verseker vir wanneer hulle die werksarena betree.
In ons koshuis het Kobus sy navorsingsdiens aangebied om mede-studente se opdragte namens hulle te doen. Hy het ’n uitgebreide kennis van Antjie Krog se digkuns tot die ekonomiese tendense in Suid-Afrika gehad.
En dié man het gewéét hoe om voordeel te trek uit desperate wesens – hoe nader die sperdatum, hoe hoër die prys; hoe meer woorde, hoe meer geld. Sy basiese prys was nét om die taak te fabriseer – sou jy (hy) meer as 60% kry, het hy verdere kommissie verdien!
Antoinette Rautenbach en haar Take Note-organisasie het die wonderlikste notas gemaak. Haar spannetjie was oor al die fakulteite heen versprei. Hulle het boeke laat bind en die ‘handleidings’ dan verkoop.
So kon baie met ’n geruste hart ná ’n laataand inlê, want Antoinette en haar span sou agtuur getrou op hul pos wees om deeglike opsommings namens jou te maak.
Riaan (Antoinette se broer) het hope handboeke op hul pa se Van Schaik-rekening gekoop en dit dan vir twintig rand minder aan studente verkoop. Dit het vir baie die moeite gespaar om in lang rye te gaan staan.
Selfs ons koshuis se snoepievoorraad is gereeld op een of ander ouer se apteekrekening gekoop (apteke moenie sjokolade en koeldrank verkoop nie!).
En almal het geweet Die Boek waarin al driehonderd koshuisouens se krediet by die snoepie opgeskryf was, moes voor die einde van elke maand verdwyn. Nie net het die uitstel van betaaldag almal met kontantvloeiprobleme gehelp nie, maar ’n reuse beloning vir die teruggee van die boek, is ook aangebied.
Die held wat Die Boek uiteindelik in die waskamer opgespoor het, is ook die ou wat dit daar weggesteek het en hy was ook die enigste een wat, danksy die beloning, nou genoeg geld gehad het om sy snoepierekening te betaal!
Studente raak vreeslik siek as eksamentyd nader kom. Nadat jy vir die vyfde keer leepoog by die dokter was, het jy genoeg leë doktersbriewe van die tafel af gesteel om goeie geld te maak deur dit aan vriende te verkoop.
Akkommodasie was ook ’n wenner. Baie ouens het, na ’n swak akademiese jaar, nie hertoelating tot die koshuis gekry nie, maar dan sommer by ’n vriend in sy koshuiskamer ‘geplak’. Hierdeur is ’n lekker huurinkomste verdien.
Parkering was nog ’n money-spinner. Toedeling by koshuise het op ’n first come first served-basis geskied, omdat spasie so beperk was. Dan het planmakers wat nie karre besit nie, gesorg dat hul name vinnig op dié lys verskyn.
Diegene met karre wat laat geslaap het en regtig ’n parkeerplek nodig het, kon dit dan by hulle huur.
Selfs jou beste vriende sou in tye van nood die situasie uitbuit. So word ek een wintersaand as deel van ons HK-inlywing op ’n ongemaklike manier sonder ’n draad klere voor ’n dameskoshuis vasgebind en net daar gelos.
Ná ’n uur se staan en aanhoor van opmerkings deur giggelende meisies, kom daar uiteindelik iemand wat ek ken verby. Sy belowe sy sal my vriendin gaan roep om my te kom help.
Na ’n tydjie vlieg ’n venster oop. Dis Beatrice. “Bel asseblief vir Lourens (my beste vriend en koshuisbuurman) en sê hy moet die sleutels van die slot bring om my los te maak,” smeek ek hulpeloos. Nog twintig minute gaan verby. Nog meisies stap verby. Ek lag verleë.
Die venster vlieg weer oop. “Het jy vir Lourens gebel?” pleit-vra ek. “Ja”, antwoord sy, “maar hy wil eers weet hoeveel jy bereid is om te betaal!”
Pieter is die eienaar van die geleentheidsorganiseerders PR Unlimited en hul funksielokaal, Elizabeth Place, in Port Elizabeth.
Uitgereik deur:
Full Stop Communications
Coetzee Gouws
041 368 4992
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com
Namens:
PR Unlimited