Met die Junie-eksamen aan die gang en nog ’n skoolvakansie wat wink, kry ek onderwysers – wat moet bontstaan met antwoorde oor hoekom hulle víér keer per jaar vakansie kan hou – opnuut jammer.

Dís mos heeltemal onregverdig, moan die samelewing! Ek was ook eens aan daardie kant van die draad – daar waar die vakansiegras soveel groener lyk en die “kort” werksure idillies klink.

“Hoekom kla die spul so oor hul salarisse as hulle so min werk?” vra ’n moeilike oom my die ander dag. “Oom…” Ek stop net daar, want hoe oortuig ek iemand wat ’n tien-uur skof as sekerheidsbeampte (meestal op ’n stoel voor die deur) werk, dat harde en uitdagende werk nie noodwendig aan amptelike ure aan diens gekoppel kan word nie?

Wat ek wou sê, is dat onderwys dikwels ’n sieleslytasie tot gevolg het, wat hierdie “baie” vakansies nie ’n voorreg maak nie, maar ’n absolute noodsaaklikheid.

Hoewel daar in elke personeelkamer, soos in enige ander kantoor, diegene is wat selfs oogkontak sal vermy wanneer die skoolhoof moedeloos iemand soek om die vier skaakspelers pouses bymekaar te kry om wedstrydreëlings te tref, glo ek onderwysers word gebore om dienaars te wees.

Die meerderheid is passievol, aanmekaargesit met geloof, hoop en liefde vir die volwassenes van môre. En onbewustelik (maar baie bewustelik!) het ons almal gekyk, geleer, geneem – en gebruik ons vandag daardie waardes om ’n verskil in ons werkplekke te probeer maak.

Ek dink met groot liefde terug aan onderwysers wat deur hul optrede werksetiek, selfdissipline, maar veral passie, vir ons geleer het:

Só was daar byvoorbeeld mnr. Wepener wat my vertrou het om weekliks ons St. 4-klas se plakboek op datum te hou; juf. Van Zyl wat, gewapen met haar kitaar, ons die natuur op Landsdienskampe leer liefkry het; juf. Coetzee, wat daagliks opmerkings soos “Pieter, die Watergieter werk mooi” in ons Sub B-boeke geskryf het en dan ’n prentjie van ’n watergieter met ’n hartjie om dit geteken het.

Dan was daar juf. Williams, wat geen rede kon vind hoekom ons skoolkoerant nie op dieselfde standaard as ’n nasionale glanstydskrif kon wees nie; mnr. Schreuder wat gedurig aan’t rondklouter op balke in die saaldak was om ligte en klank in te stel, want ons revue hoef nie net nog ’n voorspelbare skoolproduksie te wees nie; en ek onthou mnr. Potgieter se oop arms voor die koor en sy ritmiese handbewegings wat ’n seën van waardering vir die kunste oor ons uitgespreek het.

Daar was juf. Barnard, wat haar skrywerspassie in ons toneelstukke gestort het, want hoekom moet mens met ou tekste tevrede wees as jyself iets nuuts kan skep?; juf. Terblanche se stil gesag terwyl sy ons skoolbiblioteek vrou-alleen op ’n puik standaard  gehou het; mnr. Thysse, ons biologie-meneer, wat trots gevind het in die uitwerk van ’n weldeurdagte eksamenrooster, omdat hy geweet én verstaan het hoe ’n matriekleerling se anatomie werk; juf. Schreuder met haar sagte oë wat my Afrikaans-antwoordstel ná ’n eksamen uitdeel en haar hand sag op my skouer sit sodat ek kon voel hoe sy in my glo; mnr. Wahl, ons skoolhoof, se stip manier van kyk terwyl hy sy kop goedkeurend knik . . .

In hierdie klein, klein oomblikke; klein, klein gebare en kykie in hul manier van doen, is ons beïnvloed, het ons selftrots geleer, het ons besef dat prestasie ’n direkte uitkomste van harde werk is – en dat middelmatigheid net middelmatige resultate bring.

My winterwens vir onderwysers is: hou lekker vakansie met die wete dat, hoewel julle wéér vakansie het, daar baie is wat dit vir julle gun, want ons weet jul invloed op ons lewens is élke sekonde van élke minuut van élke uur van élke dag wêreldwyd op ’n onsigbare manier hard aan die werk om ondernemings se deure oop te hou, omsette te verhoog en moedelose werkers regop te hou . . .

Uitgereik deur:

Full Stop Communications
 
Coetzee Gouws
041 360 3127
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited