“Sally Williams Nougat”, wat soete herinneringe aan ’n geliefde in die verre aanwakker, het Jak de Priester vir die eerste keer sukses laat proe – in liefde én sy loopbaan.

Nie net gaan hy steeds uit met die meisie – Michelle du Toit – vir wie hy dit geskryf het nie, maar dit is ook die liedjie wat hom vierkantig op die pad na roem geplaas het, ’n pad wat eersdaags in die Oos-Kaap ’n draai maak as deel van sy Wintertoer.

De Priester, wat ook bekend is as die skrywer en sanger van die temalied van Binnelanders, hou eersdaags vier konserte in die provinsie, waarvan die eerste op 13 Junie by die stadsaal in Cradock plaasvind. Dit word gevolg deur optredes by Elizabeth Place in die Baai (14 Junie), Potter’s Place op Jeffreysbaai (15 Junie) en die Barkleystraat-teater op Uitenhage (16 Junie).

Die Oos-Kaap hou goeie herinneringe in vir De Priester, wat sê dat sy konserte hier nog altyd vir hom lekker was. Om gelukkig met sy vertoning van die verhoog af te stap en te weet dat sy gehoor dit geniet het, is vir hom die belangrikste.

“Ek is ontsettend senuweeagtig voor ’n vertoning. Jy weet jou liedjies is goed, dat jy dit goed sing en dat mense daarvan hou, maar dis ál die onbekende faktore wat my senuweeagtig maak,” sê hy.

“Daar kan altyd iets met die klank verkeerd gaan, of dit kan dalk nie die regte tipe gehoor wees nie. Dis aaklig as jy van die verhoog afstap en dit was nie ’n lekker show nie ¬– nie vir jou óf die gehoor nie.

“Ek hou van optree en dink ek klink beter as ek vir ’n gehoor sing as op CD. Ek is van kleins af lief vir die verhoog, so dit is glad nie vir my vreemd om voor mense op te tree nie.”

De Priester skryf al sy liedjies self en hoewel hy miskien ’n ander skrywer se liedjie sal opvoer, sal hy nie sommer iets wat hy nie self geskryf het, opneem nie.

Oos-Kapenaars kan juis ook uitsien na ’n geheime liedjie wat hy tydens die Wintertoer sal opvoer. Al wat hy uit die mou laat, is dat “dit ’n baie bekende Afrikaanse liedjie, die mooiste liedjie in Afrikaans” is , wat hy nog altyd wou sing.

Hy kan ook nie sê of hy dit meer geniet om te skryf as te sing nie. “As liedjieskrywer ontwikkel ’n mens die vermoë om waar te neem – om rondom jou te kyk en te ervaar en dít wat jy sien in liedjies te inkorporeer.

“Dit is gewoonlik alledaagse dinge waarmee almal kan assosieer, wat my inspireer. Dit kan iets so eenvoudig wees soos om in die oggend op te staan, wat tot ’n liedjie kan lei.

“’n Mens kan ook nie help om te skryf oor dit wat in ons land aangaan nie; wat op ons koerante se voorblaaie is nie. Dit maak veral deel uit van my jongste liedjies, maar ek probeer om dit in só ’n lig te stel dat mense voel hulle ervaar dit nie alleen nie, en om dit in perspektief te plaas vir my gehoor.

Hy word dikwels vroeg in die oggend deur inspirasie oorval. “Dis vreemd, ek sal wakker word met hierdie melodie in my kop, opstaan en die liedjie binne vyf minute skryf.

“Om te sing en te skryf het al soos tweede natuur geword, maar elke nou en dan kom ek tot stilstand en besef watse blessing dit is om jou lewe uit musiek te maak en jou ervarings op papier en in ’n liedjie neer te pen.

“Die moeilikste vir my, en ek reken vir ander plaaslike sangers, is om die passie te behou. Ons moet so baie konserte hou om die gehoor te kry wat oorsese sangers met een vertoning bereik. Hier moet jy omtrent elke aand optree.”

’n Kunstenaar met wie hy graag ’n duet sal wil opneem, is Amanda Strydom. “Ek het dit nog nie eers vir haar genoem nie, maar ek het ’n liedjie geskryf wat ek graag saam met haar sal wil sing.

“Ek ken haar goed en ons het al saamgewerk, maar nog nie saamgesing nie en hierdie liedjie sal perfek wees.”

Hyself luister graag na soulmusiek en sangers met groot “beautiful” stemme soos Christina Aguilera en Mary-Jo Blige, maar ’n mens sal ook groepe soos U2 in sy CD-rak vind.

De Priester sprei later vanjaar sy vlerke oorsee met optredes in London, Holland en Australië. “Sally Williams is in Engels vertaal. Die liedjie het baie vir my beteken asook vir ander mense in Suid-Afrika en dit sal interessant wees om te sien of dit dieselfde effek in ’n ander taal sal hê.”

Vir meer inligting oor dié toer, bel Pieter Rademeyer Jr by 083 320 6228 of stuur ’n e-pos na pieter@prunlimited.co.za. Bel Annelie by 082 396 2053 (Cradock), die Westway-kafee by 041 365 0217 (Elizabeth Place in die Baai), 042 293 2500 (Jeffreysbaai) en 083 379 9590 (Uitenhage) om te bespreek.

Uitgereik deur:

Full Stop Communications

Coetzee Gouws
041 360 3127
082 575 7991
coetzee@fullstopcom.com
www.fullstopcom.com

Namens:

PR Unlimited