Vir die eerste keer in jare, sal Baaise tuinentoesiaste van vandag af die geleentheid kry om hul skeppings vir Die Burger en PE Express se Tuin van die Jaar-kompetisie in te skryf.

Dié kompetisie word in samewerking met die Sherwood Garden Centre aangebied. Ander borge sluit Re/Max Independent Walmer and Swabey Velthuysen-prokureurs in.

Hierdie in nie ’n nuwe konsep vir Port Elizabeth nie, sê Carmel Wolf, mede-eienaar van die Sherwood Garden Centre. “Ons mikpunt is om ’n ou konsep wat met die tyd verlore geraak het, te laat herleef.

“Daar is fantastiese residensiële- en maatskappytuine in dié stad en ons het gevoel dat ons ’n platform wou skep om hulle aan die publiek bekend te stel. Afhangende van die reaksie, hoop ons om dit in ’n jaarlikse gebeurtenis te omskep en iets waarop PE kan trots wees.”

Vier kategoriewenners sal gekies word (Klein Tuin van die Jaar, Groot Tuin van die Jaar, Waterwys Tuin van die Jaar en Maatskappy Tuin van die Jaar), met elkeen wat ’n R5 000 geskenkbewys met die komplimente van Sherwood Garden Centre ontvang. Die algehele wenner sal uit die vier kategoriewenners aangewys word.

Hoewel die beoordelaars deur elemente soos eerste indruk, fokuspunte en ander terreinbakens gely word, sal kriteria soos passie, verbeelding, moeite en uniekheid ook in aanmerking geneem word, aldus Wolf. “Ons wou hê amateur-tuiniers moet net so ’n goeie kans hê om in te skryf en te wen soos mense en maatskappye wat van deskundiges gebruik maak.”

Artikels en foto’s van die wentuine sal in die Leefstyl-bylae van Die Burger en sy susterkoerant, die PE Express, verskyn.

Lees die volle berig in vandag se Leefstyl en PE Express.