As gevolg van onlangse wetsveranderinge kan iemand wat skei nou dadelik die deel van die gewese gade se aftreefonds eis wat kragtens die skikkingsooreenkoms van die egskeiding toegestaan is, skryf Pieter Willem Moolman.
Voorheen moes die een wat nié lid van die fonds was nie, wag totdat sy of haar voormalige gade op die voordele van die aftreefonds geregtig was alvorens ‘n deel daarvan geëis kon word.
Baie mense wat van die veranderinge bewus geraak het, meen nou die gade wat nié lid van die fonds is nie, is geregtig op die helfte van die waarde van die lid se fonds, bereken op die datum van die egskeiding. Maar dit is nie korrek nie.
As ‘n skikkingsooreenkoms nie behoorlik opgestel word nie, kan dit gebeur dat ‘n eis teen die pensioenfonds nie afdwingbaar is nie. Daarom is dit uiters belangrik dat die ooreenkoms noukeurig bewoord moet word en dat die partye vooraf die bedrag bepaal wat deur die pensioenfonds aan die nie-lid betaal moet word.
Alvorens ‘n fonds kragtens ‘n egskeidingsbevel geld aan die gade kan uitbetaal wat nié lid van die fonds is nie, moet die hofbevel voldoen aan die bepalings van die Egskeidingswet van 1979.
Die wet bepaal dat slegs ‘n deel van die lid se pensioen, soos bereken op die datum van die egskeiding, deur die egskeidingsbevel aan die nie-lid toegestaan moet word. Die fonds moet in die bevel duidelik by die naam genoem of geïdentifiseer word.
Die bestuurders van die aftreefonds moet ook aangesê word om ‘n endossement in die dokumente aan te bring waarvolgens verseker word dat die toegekende deel van die pensioen betaal word.
Dit is belangrik dat albei partye begryp presies wat met “pensioenwaarde” bedoel word. In ‘n pensioenfonds word dit kragtens die Egskeidingswet gedefinieer as die waarde van die fonds op die datum van die egskeiding.
In aftree-annuïteitsfondse word die pensioenwaarde gedefinieer as ‘n persentasie van die kapitaalbedrag, plus enkelvoudige rente teen die voorgeskrewe koers, bereken op die datum van die egskeiding.
Jou finansiële beplanner kan die pensioenwaarde bereken wat jy sal kry wanneer die waarde van die aftree-annuïteitsfonds vir die doeleindes van die egskeiding bepaal word. Dit sal aan die nie-lid van die fonds sekerheid verskaf ten opsigte van die bedrag wat hy of sy sal ontvang en die lid van die fonds kan verwittig word van die bedrag wat van sy of haar aftree-annuïteitsfonds afgetrek sal word.
Die beste manier waarop die nie-lid ‘n onmiddellike enkelbedrag-betaling van ‘n aftree-annuïteitsfonds kan eis, is dat in die egskeidingsbevel gemeld word watter bedrag die partye in gedagte het. Byvoorbeeld: “R500 000 van So-en-So se pensioenwaarde in die aftree-annuïteitsfonds XYZ”.
‘n Mens moet onthou dat die voordeel wat ontvang word, belasbaar is as die nie-lid dit in ‘n kontantbedrag neem. Die nie-lid kan onmiddellike belastingbetaling vermy deur die volle toegekende bedrag oor te dra na ‘n ander goedgekeurde aftree-fonds, met inbegrip van ‘n bewaringsfonds.
Wanneer die lid dié fonds verlaat, hetsy deur onttrekking, aftrede of dood, is die gewone belastingbepalings op die bepaalde tydstip van toepassing.
Jou finansiële beplanner kan jou help om jou geld in jou persoonlike hoedanigheid te belê sodat jy in die jare vorentoe die groei sal kan geniet.
Pieter Willem is ‘n finansiële raadgewer en stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Die onderneming se missie is om finansiële sekuriteit en welvaart vir kliënte te skep. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.