Die grootste moontlike opbrengs met die kleinste moontlike kapitaalrisiko is dikwels waarna mense mik wanneer hulle ’n finansiële raadgewer oor beleggings raadpleeg, skryf Pieter Willem Moolman.

Dit klink dalk na ’n eenvoudige opdrag, maar die kliënt moet deeglik begryp wat hy eintlik vra.

Soveel opsies bestaan op dié beleggingsgebied dat dit uiters moeilik is om die lys uit te dun sodat ’n toepaslike belegging voorgestel kan word.

Elke kliënt het spesifieke behoeftes en omstandighede wat in ag geneem moet word, waaronder sy of haar ouderdom, beroep, beskikbare geld en tydsduur. Daar bestaan dus nie ’n bloudruk nie; elke kliënt se situasie en behoeftes is uniek en moet sodanig hanteer word.

Iemand wat 65 jaar oud is, pensioenfondsgeld het en nou aftree, is byvoorbeeld ’n heel ander soort belegger as iemand van 45 wat geld beskikbaar het en dit in die aandelemark wil belê.

Dié verskillende behoeftes dui op van die kernaspekte wat oorweeg moet word. Die tydperk waarvoor die geld belê moet word, moet bepaal word, en wanneer die kapitaal beskikbaar moet wees.

Iemand wat aftree, stel waarskynlik meer belang in die hoeveelheid inkomste wat sy kapitaal kan genereer. Daar is baie keer nie genoeg kapitaal beskikbaar om die genomineerde inkomste te lewer nie, met die gevolg dat kapitaal oor tyd verminder.

Daar is variasies op dié tema wanneer lewensannuïteite oorweeg word, maar daaroor kan ons op ’n ander dag gesels.

Iemand wat “bykomende” geld in aandele belê, sal die beste opbrengs op sy kapitaal verlang, maar behoort te begryp dat die waarde van sy kapitaal aan skommelinge onderworpe sal wees.

Daarby moet genoem word dat nie alle beleggings in aandele-portefeuljes noodwendig as riskant bestempel moet word nie.
   
Die belegger moet ten minste ’n basiese begrip van die onderskeie bateklasse hê, asook van die moontlike risiko wat aan elkeen verbonde is, en van die onderlinge wisselwerking tussen hulle.

Baie beleggers beskou kontant as ’n laerisiko-, stabiele bateklas. Maar die risiko wat aan kontant verbonde is, is dat inflasie die reële koopkrag van jou geld kan wegkalwe.

Die ander vernaamste bateklasse – aandele, effekte en eiendom – het almal inherente risiko’s en voordele. Daarom pas ’n gediversifiseerde portefeulje met wisselende kombinasies van die onderskeie bateklasse baie beleggers die beste.

Beleggers behoort, as ’n praktiese reël, te onthou dat hoë opbrengste dikwels met hoë risikovlakke gepaard gaan.

Daarom is dit so ’n nuttige proses om eers die belegger se risikoprofiel te bepaal sodat vasgestel kan word in welke mate hy of sy kans sien om ’n kans te waag.Risiko-aptyt speel dus ’n belangrike rol by beleggingskeuses.

Die bepaling van ’n risikoprofiel is egter nie die alfa en omega nie. Dit is bloot ’n aanduiding van die belegger se beskouing van die verskeidenheid aspekte van ’n belegging op ’n gegewe tydstip.

Dit gebeur dikwels dat iemand wat minder as verwagte opbrengste ontvang, skielik ’n meer konserwatiewe belegger word.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.