Net sowat 15% van alle voertuie op Suid-Afrikaanse paaie is omvattend verseker, skryf die finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.
Daar bestaan dus ’n sterk moontlikheid dat iemand met geen of onvoldoende versekering ’n ongeluk kan veroorsaak waarin jy en jou voertuig betrokke is. Daarom is voertuigversekering iets waaraan ’n mens deeglik aandag moet gee.
Een van die goeie kenmerke van motorversekering in ons land is dat daar nie ’n wye verskeidenheid produkte is waaruit mense hoef te kies nie.
Die drie basiese soorte dekking is: omvattend; derdeparty, brand en diefstal; en derdeparty.
Omvattende versekering dek ’n hele arsenaal risiko’s waaraan jou voertuig blootgestel is, ongeag of dit beweeg of stilstaan.
Dit sluit in verliese wat veroorsaak word deur diewe, kapers en ander oortreders. Dit bied ook beskerming teen toevallige skade aan jou motor, die voertuig of eiendom van ’n derde party asook dood of beserings van derde partye.
Bykomende toerusting soos ’n radio of die kap van ’n bakkie en natuurlike risiko’s soos haelskade is ook gewoonlik kragtens ’n omvattende versekeringbeleid by sodanige polis ingesluit.
Sommige versekeraars bied gratis bykomende dekking soos padbystand, mediese hulp, motorhuur, sleepkoste ensomeer. Vir die eienaar van ’n versekerde voertuig is dit net so belangrik om te weet wát gedek is al dan nie.
Versekeraars beskou dit as vanselfsprekend dat jou motor padwaardig is en sal nie tot jou redding kom indien dit nie die geval is nie. Daarom kan jy nie op dekking aanspraak maak as die voertuig se bande byvoorbeeld erg afgeloop is nie.
Versekering geld ook nie wanneer iemand sonder ’n geldige rybewys of onder die invloed van alkohol of dwelms bestuur nie.
In geval van die ongemagtigde gebruik van ’n voertuig, of wanneer iemand jou motor sonder jou toestemming bestuur, is die versekering ook nie van krag nie. Dit geld ook voertuie wat vir wedrenne gebruik word.
Voertuie wat vir reise in ander lande gebruik word, mag dalk ook nie gedek wees nie. Dis dus noodsaaklik om die polisbewoording deeglik na te gaan alvorens jy enige landsgrense oorsteek.
Versekering teen derdeparty-eise, brand en diefstal bied dekking teen skade wat jy aan iemand anders se voertuig veroorsaak asook vir eise weens die toevallige dood of beserings van derdeparty-slagoffers in ’n ongeluk.
’n Versekerde sal vergoed word vir die verlies van ’n voertuig as gevolg van diefstal, poging tot diefstal en kaping asook skade wat deur ’n brand, weerlig of ontploffings veroorsaak is.
Derdeparty-versekering op sigself verskaf slegs dekking teen skade aan iemand anders se voertuig en die toevallige dood of beserings van derdeparty-slagoffers wat in dieselfde ongeluk betrokke is. Skade aan of die verlies van jou eie voertuig is nie ingesluit nie.
Wanneer jy ’n aansoekvorm vir motorversekering invul, beantwoord alle vrae eerlik. Moenie verklaar die voertuig word snags in ’n motorhuis gehou indien dit nie die geval is nie.
Mense dink sulke wit leuens kan hulle help om ’n laer premie te betaal, maar die risiko is dat die versekeraar sal weier om die eis te betaal.
Ek stel voor jy verseker jou motor omvattend.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.