Die vraagstukke wat deur die aanwas van iemand se boedel veroorsaak kan word, maak die advies en hulp van ’n kundige onontbeerlik, skryf Pieter Willem Moolman.
Wanneer ’n egpaar skei, of wanneer een van hulle sterf, ontstaan soms probleme met iets wat as die “aanwasbedeling” bekend is. Dit hou gewoonlik verband met ’n voorhuwelikse kontrak wat nie spesifiek ’n aanwasbedeling uitgesluit het nie.
Die waarde van die egpaar se onderskeie boedels word bepaal op die datum van hul troue en word as die “aanvangswaarde” beskou.
As hulle skei, moet die een wie se boedel die grootste aanwas (groei) getoon het, kragtens die wet ’n bepaalde deel aan die ander een betaal. Dit geld ook in die geval van een se dood.
Met ’n egskeiding moet die twee die eis in ag neem wanneer hulle die skikkingsooreenkoms opstel. Die gevolge van die aanwas word egter die swaarste gevoel wanneer een sterf.
’n Aanwasbedeling-eis ten gunste van die langslewende is ’n eis teen die boedel van die afgestorwene. Dit behoort as ’n las behandel te word, wat betaal moet word voordat die boedelbates kragtens die testament aan begunstigdes oorgedra word.
Dié eis moet in die likiditeitsberekening deur die boedelbeplanner in ag geneem word en daarvoor moet spesifiek voorsiening gemaak word. As daar nie voorsiening gemaak is nie kan die boedelbates gelikwideer word, moontlik tot nadeel van die erfgename en begunstigdes.
As elke eggenoot sy of haar hele boedel aan die langslewende bemaak, sal die aanwas-eis nie ’n tekort aan likiditeit veroorsaak nie. Die probleem ontstaan wanneer die oorledene ’n deel van sy of haar boedel aan ’n derde party bemaak.
Kyk na dié voorbeeld. Die egpaar het, toe hulle getrou het, geen bates gehad wat as ’n “beginsaldo” beskou kon word nie. Die vrou het gedurende die huwelik nie haar eie, afsonderlike, boedel opgebou nie.
Toe sterf die man, wat ’n groot, illikiede boedel, bestaande uit verskeie sakebelange, opgebou het. Met sy dood beloop syne R50 miljoen (netto) en sy weduwee s’n nul.
Maar hy het sy boedel aan sy kinders uit ’n vorige huwelik bemaak wat almal in die ondernemings betrokke is.
Die weduwee is daarop geregtig om te deel in 50% van die groei van sy boedel. Haar aanwas-eis beloop R25 miljoen en moet afgehandel word vóórdat die begunstigdes hul erfporsie kry, wat ’n likiditeitstekort veroorsaak.
Met voorafbeplanning kon die oorledene ’n koop-en-verkoop-ooreenkoms met die kinders onderteken het sodat hulle R25 miljoen in die boedel sou inbetaal as deel van die koopprys vir sekere sakebelange in die ondernemings. Die balans kon bemaak gewees het.
Hy kon ook in die testament bepaal het wat die kinders sal erf, op voorwaarde dat hulle ’n prys gelykstaande aan die waarde van die aanwas-eis betaal. As hulle dit nie kan doen nie, gaan die boedel oor na die weduwee.
In albei gevalle kon lewensversekering aangewend word om die geld beskikbaar te stel.
As so ’n eis teen die langslewende gade is, word dit beskou as ’n eis ten gunste van die boedel. Dit word dan geag as eiendom wat gebruik kan word om boedellaste te betaal.
As enigiets oorbly, kan dit verdeel word onder erfgename en begunstigdes soos bepaal in die testament.
Van die weduwee kan dan verwag word om ’n aanwas-eis, wat aanmerklik kan wees, aan die boedel oor te betaal. Daar moet dus voorsiening gemaak word hiervoor.
Die probleem word erger as die man sy bates aan minderjariges in ’n trust nalaat aangesien die Meester sal aandring dat alle eise ten gunste van die boedel betaal word. Dit moet ’n kontantbetaling aan die trust wees, tot voordeel van die minderjariges.
Die oplossing is klaarblyklik lewensversekering, sodat die oorlewende die middele sal hê om die aanwas-eis te betaal. Die polis sal beskou word as ’n aftrekking en sal gevolglik nie by die boedelberekening getel word nie.
’n Egpaar se boedellikiditeit, spesifiek ten opsigte van die berekening van die aanwas, moet dus gereeld bepaal word.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.