’n Eenvoudige testament is ’n móét, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.

Ek wil egter beklemtoon dat sodanige testament steeds prakties uitvoerbaar moet wees. Dis onlangs opnuut geïllustreer toe ’n boer kom raad vra het oor syne.
p die oog af het sy testament eenvoudig genoeg gelyk, maar by nadere ondersoek blyk dit toe dat dit nie uitvoerbaar is nie. Kyk ʼn bietjie na die agtergrond.

Sy bates bestaan uit twee plase, lewende hawe, ’n strandhuis en kontantbeleggings van ongeveer ’n miljoen rand.

Hy bemaak die plase aan elk van sy twee seuns, sy strandhuis aan ’n trust en sowat halfmiljoen aan sy dogters. Die res word bemaak aan sy vrou, met wie hy 51 jaar getroud is.

Groot was sy verbasing toe ’n behoorlike boedelontleding aan die lig bring dat sy vrou niks gaan erf nie, want daar gaan ’n tekort aan kontant in die boedel wees.

Die tekort word hoofsaaklik veroorsaak deur kapitaalwins op boedelbates, boedelbelasting en die koste om die boedel sinvol te beredder.

In dié geval moes omtrent ’n miljoen rand iewers gevind word bloot om die boedel te beredder. Die gevolge sou rampspoedig gewees het.

Die eggenote, die belangrikste erfgenaam, sou niks geërf het nie en moontlik bakhand moes staan om haar lewenspeil te handhaaf. ’n Nuwe wet sal haar wel toelaat om ’n onderhoudseis in te stel.

Om te erf, is ’n voorreg; nie ’n reg nie. ’n Mens moet dus seker maak jou lewensmaat sal finansieël onafhanklik wees wanneer jy sterf. Dit moet ’n prioriteit wees.

Die punt wat benadruk moet word, is dat ’n mens seker moet maak jy weet wat die restant van jou boedel gaan wees.

Iets anders wat ook moeilikheid kan veroorsaak, is ’n aanwas-eis. Dié eise het betrekking op persone wat ná 1983 getroud is (daarna is mense meestal buite gemeenskap met die aanwasbedeling getroud).

Mense bemaak dikwels hul bates sonder dat die aanwas-eis in berekening gebring word. Maak dus seker jy weet wat die aanwas-eis gaan beloop voordat jy jou testament finaliseer.

Wat deeglik in aanmerking geneem moet word, is dat ’n aanwas-eis albei kante toe werk. Dit is dus betaalbaar by die dood van die man of vrou.

Normaalweg word die berekening gedoen asof die man eerste gaan sterf, maar ’n berekening is ook nodig ingeval die vrou eerste sterf.

In baie gevalle is dit dus die moeite werd om ook versekering op die lewe van die vrou uit te neem.

Al dié aspekte is ingewikkelde sake en verreweg die meeste mense het die hulp van ’n kundige nodig wat die nodige berekeninge kan doen.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.