Mense met korttermynversekering verkeer dikwels onder ’n wanindruk oor die versekeraar se reg om ’n polis te kanselleer, skryf die finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Talle polishouers meen ’n versekeraar mag nie ’n polis kanselleer nie behalwe as die versekerde ophou om sy premie te betaal, iets verswyg het wat die versekeraar veronderstel was om te weet of een van die polisvoorwaardes nie nagekom het nie.
Dié moontlikhede bestaan wel, maar baie ander faktore moet in ag geneem word.
’n Versekeraar het inderdaad kragtens ’n poliskontrak die reg tot onmiddellike kansellasie as een of meer polisvoorwaardes nie nagekom is nie.
’n Versekeringspolis is ’n kontrak, net soos elke ander kontrak. Dit beteken albei partye het die reg om dit te kanselleer, mits daar behoorlik van die voorneme kennis gegee word.
Die reg om ’n polis deur sodanige kennisgewing te kanselleer, vereis nie dat ’n rede daarvoor aangevoer hoef te word nie. Dit hoef ook nie noodwendig as gevolg van ’n verbreekte polisvoorwaarde te wees nie.
As die versekerde om welke rede ook al besluit om van versekeraar te verander, mag hy die polis kanselleer deur die versekeraar vroegtydig, soos in die polisbewoording bepaal, daarvan te verwittig. Die kennisgewingtyd is gewoonlik ’n maand.
Wanneer ’n jaarpremie vooruit betaal is, word die versekeraar kragtens die polisbewoording verplig om ’n deel van die premie terug te betaal.
Ongelukkig kan ’n situasie ontstaan dat ’n versekerde se kans om elders dekking te bekom, aansienlik bemoeilik word as die versekeraar besluit om ’n polis te kanselleer. ’n Nuwe versekeraar sal volledige inligting van alle vorige eise en verliese nodig hê en sal ook inligting vra oor alle vorige polisse wat gekanselleer is.
Die versekerde is wetlik verplig om dié inligting te verstrek. Dit kan daartoe aanleiding gee dat die potensiële versekeraar weier om die gevraagde dekking te verskaf.
Die beste manier om so ’n ongemaklike situasie te vermy, is om jou volledige versekering- en eisegeskiedenis met die intrapslag op die tafel te plaas sodat dit geëvalueer kan word.
Ten laaste: as jy besluit om jou korttermynversekering te kanselleer, is dit raadsaam dat jy jou makelaar of versekeraar duidelik laat verstaan van watter datum af jy die dekking gekanselleer wil hê.
Indien moontlik, moet daar skriftelik van sodanige instruksies rekord gehou word.
As jy ’n polis onmiddellik wil kanselleer, kan die versekeraar dit aanvaar en selfs ’n deel van die vooruitbetaalde premie aan jou terugbetaal, selfs al is jy onder ’n verpligting om minstens ’n maand kennis te gee.
Maar dit sal meebring dat jy onmiddellik onverseker sal wees. As jy meen jy hoef nie vervangende dekking vir die res van daardie maand uit te neem nie, begaan jy ’n groot fout.
As jy gedurende daardie tydperk verliese of skade ly, kan die versekeraar onder geen omstandighede daarvoor aanspreeklik gehou word nie.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.