’n Egskeiding verg groot omsigtigheid, heelwat huiswerk en goeie advies van ʼn spesialis, skryf die finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Wanneer ʼn egpaar skei, kry albei partye swaar; hetsy emosioneel of weens ʼn konkrete verlies. Daarom is dit belangrik dat die man én vrou goeie finansiële en regsadvies inwin voordat hulle skei.
ʼn Gesoute finansiële adviseur kan bepaal hoeveel nodig is om iemand se finansiële sekuriteit te verseker. Die doelwit is immers dat die egpaar “skoon breek” en dat die een nie van die ander afhanklik sal wees nie.

ʼn Mens moet egter nie oorhaastig wees om die proses agter die rug te kry nie, want daar kan geweldige finansiële implikasies vir albei partye wees.

In die meeste gevalle is dit die vrou wat in ʼn skeisaak die slegste daarvan afkom. Dit kan aan verskeie redes toegeskryf word.

Een daarvan is dat baie vroue nie deeglik aan die keuse van ʼn huweliksgoedere-bedeling aandag gee nie.

Daarby maak vroue dikwels nie gedurende ʼn huwelik vir hulself finansieel voorsiening deur ʼn polis of annuïteite uit te neem nie. Ander het weer nooit geleer om hul eie sake te behartig nie en dus geen neseier opgebou nie.

Dit gebeur ook soms dat vroue wat trustees van familietrusts is nie aktief in besluite deel nie.

Te veel vroue, en hul kinders, is volkome van die eggenoot afhanklik en wanneer die huwelik ontbind word, stort hul bestaan eenvoudig ineen.

Dit is raadsaam om ʼn lys te maak van potensiële probleme wat vermy moet word, asook van riglyne wat ʼn mens moet volg wanneer jy wil skei.

Ten eerste is dit belangrik om van die begin af ʼn spesialis- finansiële beplanner te raadpleeg sodat bepaal kan word hoeveel nodig is om jou finansiële sekuriteit te verseker.

Maak seker jy begryp wat in jou huwelikskontrak staan en wat die implikasies van jou huweliksbedeling is. Win advies in as jy nie seker is nie, want dit vorm die grondslag van jou egskeiding.

Stel ʼn gedetailleerde begroting op van jou en jou kinders se maandelikse uitgawes en sluit toekomstige uitgawes in.
Daar word aanbeveel dat ʼn versekeringspolis op die gewese gade se lewe uitgeneem word om die onderhoudsgeld te beveilig ingeval hy of sy ongeskik raak of sterf.

Die egpaar se testament moet dringend hersien word. As ʼn geskeide gade in die testament bevoordeel is en dit gewysig moet word, verleen die Wet op Testamente ʼn grasietydperk van drie maande ná die egskeiding om die testament te hersien.

As dit nie gebeur nie, sal die geskeide gade geregtig wees op die betrokke voordele wat in die testament voorkom.

Polisse moet hersien word. ʼn Egskeiding kanselleer nie die benoeming van ʼn geskeide gade in ʼn polis nie.

Ander verpligtinge wat aandag verg, is dat werkgewers, mediese fondse en pensioenfondse van die egskeiding in kennis gestel moet word.

Korttermynversekering, debietorders en diensverskaffers soos munisipaliteite moet ook verander word.

Daarby moet onthou word dat ʼn mens op rehabilitasie-onderhoud geregtig kan wees. Dit sluit die koste om weer ʼn woonplek te kry, in.

Skryf dit in die skikkingsooreenkoms dat jy ʼn skuldbeslagorder op jou gewese gade se salaris sal aanvra as hy of sy nie betalings nakom nie.

Jy is op die helfte van jou gade se pensioenfondse – wat voorsorgfondse, annuïteite en bewaringsfondse insluit – geregtig as jy binne gemeenskap van goedere of buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling getroud is.

ʼn Vrou wat weer haar nooiensvan aanneem, het die bykomende verpligting om dit oral aan te meld waar haar getroude van voorkom.

Egskeiding is, finansieel en emosioneel, ʼn drastiese stap en tyd moet opsy gesit word om die proses en implikasies te begryp.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.