’n Kliënt se Persiese tapyt van R14 000 is erg beskadig toe haar huishulp dit gewas het, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Sy was onbewus dat dit met ’n borsel en skoonmaakmiddels geskrop is en het tot haar onsteltenis ontdek die mat is gevlek en draderig.
In ’n gesprek met haar versekeraar het sy verneem haar versekeringseis word nie toegestaan nie aangesien die polis nie skoonmaakskade aan matte, gordyne en meubels – soos dikwels die geval is – insluit nie.

Indien die kliënt die “toevallige skade”-uitbreiding op haar polis gehad het, en die skoonmaak genoodsaak was deur byvoorbeeld ’n glas koeldrank, sou sy wel dekking geniet het.

Toevallige skade is ’n opsionele uitbreiding onder huisinhoudversekering wat alle skade wat toevallig plaasgevind het, dek.

Daar is ook ’n uitbreiding vir toevallige skade aan elektriese, meganiese en elektroniese toerusting.

Hou in gedagte dat skade aan jou huisinhoud wat deur troeteldiere of peste soos termiete veroorsaak is, ook nie ingesluit is nie.

Jy sal dus wonder watter tipe dekking jy wel vir jou matte geniet.

’n Versekeraar verduidelik dat los matte – duursaam of nie – gewoonlik onder huisinhoudversekering gedek is vir skade wat deur brande, inbrake, diefstal, oorstromings, weerlig, ontploffings, hael en sneeu veroorsaak is.

Voorwaardes en uitsonderings verskil afhangende van die maatskappy – dit is dus belangrik om navraag te doen.

As jy besluit om duursame matte, blindings of gordyne uit jou huis te verwyder – byvoorbeeld om te laat skoonmaak – moet jy liefs eers uitvind of jy steeds gedek sal wees. Dis moontlik om jou polis se dekking aan te pas indien jy sodanige dekking sou verlang.

Enige item wat jy uit jou woning neem, tel as huisinhoud. Enigiets wat aan die gebou vas is, soos muur-tot-muur-matte en alarmstelsels, word as deel van die gebou verseker.

Die meeste huisinhoudpolisse dek die totale waarde van jou huisinhoud, mits jou versekerde bedrag korrek is. Die beste manier om seker te maak jou huisinhoud is voldoende verseker, is om ’n inventaris op te trek.

Dis ook baie belangrik om duur items op jou polis te spesifiseer sodat die volle waarde in die geval van ’n eis uitbetaal word. Gee altyd die bewys van aankoop of waardasie van die item aan jou makelaar.

Sorg ook dat jy jaarliks met die hernuwing van jou polis alle kosbare items se waarde hersien om tred te hou met inflasie.

Onthou, versekeraars sluit slytasie uit. Korttermynversekekering is nie verantwoordelik vir onderhoud nie!

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.