So kry ek ’n navraag van ’n leser wat wil weet of hy verseker sal wees indien sy hond iemand gaffel, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Dis geensins ’n eenvoudige antwoord nie. Hy moet eerstens persoonlike aanspreeklikheidsdekking hê en, tweedens, moet nalatigheid van die versekerde bewys kan word.
Persoonlike aanspreeklikheid onder jou persoonlike polis dek ’n verskeidenheid situasies wat jou baie geld kan kos.

Aanspreeklikheid is bedoel om derde partye te vergoed vir beserings, dood of verlies in die geval van nalatigheid deur die versekerde.

Hierdie dekking sal jou verlos van regsgedinge en kan jou red uit potensieel groot verliese.

Trouens, mense kan meer verloor deur regsgedinge vir aanspreeklikheid as wat hulle sou verloor indien hul huis afbrand. Hoe meer jy het om te verloor, hoe belangriker is dié dekking.

Beserings wat op jou perseel – of as gevolg van die gebruik van jou eiendom –plaasvind, word deur persoonlike aanspreeklikheidsdekking gedek.

Betalings sal gemaak word vir mediese hulp, verlies aan lone, doodsvoordele en goed soos pyn-en-lyding.

Scenario’s sluit in honde wat besoekers en kinders byt of skade aan hul besittings veroorsaak.

As jy, jou kinders of jou troeteldiere skade aan die persoonlike eiendom van ’n ander aanrig, moet jou aanspreeklikheidsdekking vir die herstel of vervanging van sodanige items sorg. Die nalatigheid-kwessie is steeds van toepassing.

Regskostes wat namens jou aangegaan is om jou saak in die geval van ’n regsgeding vir aanspreeklikheid te verdedig, word ook gedek.

Daar is egter dinge wat nie deur aanspreeklikheidsversekering gedek word nie.

In die eerste plek, bied dit slegs dekking tot die gespesifiseerde bedrag op die polis. Uitgawes of verliese bo en behalwe dié bedrag, is die verantwoordelikheid van die poliseienaar.

Opsetlike skade aan iemand se eiendom, is ook nie ingesluit nie. Ook nie persoonlike beserings wat met opset – soos in die geval van ’n geveg – toegedien is nie.

Persoonlike aanspreeklikheid is een van die belangrikste aspekte van jou versekeringspolis – moet dit nie afskeep nie.

Indien jy bates het wat jy wil beskerm, oorweeg dit eerder om jou aanspreeklikheidsdekking te verhoog.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.