Met die vakansieseisoen op hande, het ons baie voorbereidings om te tref alvorens ons ons sleepwaens kan pak en die lang pad aandurf, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Om die veiligheid van jou familie en eiendom in hierdie tyd te verseker, is ’n prioriteit. Statistieke toon duidelik dat kriminele aktiwiteite gedurende die vakansieseisoen toeneem en dit is dus noodsaaklik om voorsorgmaatreëls te tref.

Elke persoon wat korttermynversekering het, moet voldoen aan die sorgsaamheidsplig. ’n Versekeraar se polisbewoording beskryf dit mooi: “Jy moet alle redelike voorsorgmaatreels tref en alle redelike sorg aan die dag lê om verlies, skade, dood, besering of aanspreeklikheid te voorkom of te verminder.”

Ek wil ’n paar handige vakansieveiligheidswenke met jou deel om jou in staat te stel om jou risiko te verminder.

Die eerste en belangrikste stap is om te verseker dat jou alarmstelsel werk. Mense is geneig om te vergeet dat ’n alarmstelsel, soos ’n motor, onderdele het wat verouder en daarom moet dit ten minste een keer per jaar versien word.

Donderstorms, wat veral in die somermaande voorkom, kan ook verwoesting saai wanneer dit by alarmstelsels kom. Dit is dus ’n goeie idee om joune ná so ’n storm na te gaan.

Versekeringsmaatskappye sal in alle waarskynlikheid ’n huiseienaar se alarmstelsel ná ’n inbraak ondersoek om vas te stel of dit behoorlik onderhou is.

Nog ’n belangrike wenk is om strategies te beplan vir wanneer jy weggaan.

Parkeer motors wat agterbly agter geslote deure of, indien moontlik, in ’n motorhuis. Moet ook nooit boodskappe op jou antwoordmasjien laat wat verklaar dat jy met vakansie is nie.

Hier is nog ’n paar algemene veiligheidswenke:

Lig jou sekuriteitsmaatskappy in dat jy met vakansie gaan en maak seker dat jy al die nodige inligting aan hulle verskaf, soos byvoorbeeld wie ’n spaarsleutel van jou huis het.

Stel jou bure van jou vakansieplanne in kennis sodat hulle ’n ogie oor jou eiendom kan hou. Stop koerantaflewerings en vra ’n vriend of buurman om jou pos uit te haal – ’n posbus wat oorvol is, is ’n duidelike teken dat jy nie tuis is nie.

Maak seker dat jy alle vensters en deure deeglik sluit voor jy vertrek en goeie buitebeligting, wat verkieslik aan ’n tydbeheerstelsel gekoppel is, is ook ’n aanbeveling.

Moenie gereedskap soos lere en grawe buite los nie, aangesien dit gebruik kan word om in jou huis in te breek. ’n Duidelike bord wat aandui dat jy oor ’n alarmstelsel en/of gewapende reaksie-diens beskik, help ook om inbrekers te ontmoedig.

Die boodskap is dus duidelik. Indien jy versigtig is en verantwoordelik optree, kan jy verhoed dat inbrekers jou vakansie versuur en dalk hope geld kos.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.