’n Leser met ’n inter vivos trust wou by my weet hoe veilig sy trustbates ten opsigte van krediteure is, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Sy (oftewel Mnr X) huwelik is besig om te verbrokkel en hy soek bevestiging dat sy vrou (Mev Y) nie op die bates sal kan aanspraak maak nie.

Ná nadere ondersoek blyk dit dat hulle die enigste twee trustees van die trust is. Verder is daar geen resolusies in terme van besluite oor die bates in die trust opgestel nie en geen huurkontrakte en leningsooreenkomste is in plek nie.

Die enigste gevolgtrekking wat ek dus kan maak, is dat Mnr X met die bates gehandel het asof dit sy eie was. Vir alle praktiese doeleindes beteken dit dus dat hy nie ’n trust het nie en dít kan verreikende gevolge vir sy boedel hê.

Sy krediteure sowel as Mev Y sal waarskynlik op sy trustbates aanspraak kan maak.

Verder sal die Ontvanger van Inkomste ook nie op hom laat wag nie. Dié sal heel waarskynlik die boedel hanteer asof daar nie ’n trust was nie, wat geweldige implikasies ten opsigte van boedel- en kapitaalwinsbelasting kan hê.

Die redes hoekom die inter vivos trust (’n trust terwyl ’n persoon lewe) gestig is, het dus gedisintegreer. Moet nie dat dit met jou gebeur nie.

Sodanige trust is na my mening steeds ’n uiters effektiewe platform vir finansiële en boedelbeplanning. Dit bied batebeskerming, boedel- en kapitaalwinsbelastingvoordele asook beskerm vir kinders.

Die onus rus egter op die trustees om dit volgens die wet en trustakte te bestuur en ek gaan hieronder net ’n paar aspekte beklemtoon.

’n Onafhanklike trustee wat nie ’n begunstigde van die trust is nie, is belangrik. Verder moet daar resolusies in plek wees wat al die belangrike besluite staaf.

Gereelde vergaderings tussen trustees is verder ook belangrik en indien daar lenings ter sprake is, behoort leningsooreenkomste in plek te wees.

Eiendomme – byvoorbeeld ’n plaas – word dikwels in ’n trust gekoop. Indien die boer daarop woon moet ’n behoorlike huurkontrak in plek wees.

In ’n onlangse hofsaak, het die regter die volgende te sê gehad: “The core idea of a trust is debased when the trust form is not employed to separate beneficial interest from control, but rather to permit everything to remain ‘as before’, though now on terms that privilege those who enjoy benefit as before while simultaneously continuing to exercise control.”

My waarskuwing is dus om nie met jou broek op jou knieë gevang te word nie. Indien jou trustadministrasie nie op datum is nie, kontak jou finansiële raadgewer vandag nog.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.