’n Mens sou graag versekering wou hê wat jou aardse besittings volledig teen verliese en skade dek, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

Sodanige versekering is moontlik, maar kan in ’n duur spulletjie ontaard as jy alles teen alle gebeurlikhede wil verseker.

Elke persoon kom dus by ’n punt waar hy/sy moet besluit of dit die geld werd is om sekere items of gebeurlikhede te verseker. Dié besluit hang grotendeels af van persoonlikheid en dus ’n persoon se houding met betrekking tot risiko’s en sekuriteit.

Natuurlik speel finansiële vermoë ook ’n rol, maar dan kan mens net sowel redeneer dat iemand wat maklik die premie kan bekostig, waarskynlik genoeg geld het om die artikel self te vervang sou dit nie deur versekering gedek word nie.

Neem byvoorbeeld ’n digitale kamera. Vyf jaar gelede was die aantal megagrepe en prys ’n statussimbool.

Een met ’n kapasiteit van twee megagrepe teen R4 500 het van jou ’n meneer van ’n “fotograaf” gemaak. Vandag koop jy een met agt megagrepe vir ’n skamele R1 500.

Dieselfde geld vir selfone. Betaal R60 per maand of pas dit mooi op en koop die nuwer model as iets onvoorsiens gebeur – vir sommige ’n maklike besluit.

Wat motors betref, het mens die keuse om sowat R60 meer te betaal en dan huur die versekeringsmaatskappy vir jou ’n motor vir 30 dae terwyl joune ná ’n ongeluk herstel word.

Hierdie opsie word dikwels opsy gevee met opmerkings soos dat die persoon eerder sy vrou se motor sal gebruik of sy pa se ou Volksie wat onder die afdak staan.

Maar die dag wat ons die oproep oor die ongelukseis kry, moet die kinders skool en sport toe vervoer word en die Volksie se battery is pap.

Vir die meeste mense is hierdie verskansing teen ongerief en om op iemand anders aangewese te wees, oor en oor R60 werd.

Dan is daar juweliersware – soos daai verloofring wat meer gekos het as jou Citi Golf op universiteit.

Die premie om dit teen alle risiko’s te verseker, is waarskynlik R200 per maand. Sommiges mag besluit om die ring aan hul vinger eerder mooi op te pas en die R200 by ’n uittree-annuïteit te voeg.

Daar is dikwels misverstande oor “alle risiko”-items wat nie gespesifiseer is nie. Tipiese eise hieronder is vir ’n donkerbril wat op die strand of baadjie wat by die restaurant agterbly.

Eis as jy moet eis, maar wees versigtig vir gereelde klein eise wat op agterlosig-of roekeloosheid dui. Jou eise-geskiedenis kan jou premie nadelig beïnvloed.

Maak ook seker van items wat nie onder alle risiko of huisinhoud op jou polis gedek word nie: jou skootrekenaar, GPS, bergfiets en branderplank moet onder meer gespesifiseer wees.

Klein items wat maklik en teen relatief lae koste vervang kan word, is dikwels duur om te verseker. Deur wakker en versigtig te wees, kan mens verliese voorkom en geld spaar.

’n Goeie makelaar sal seker maak dat jy gemaklik voel met jou versekering en dat jy die risiko’s verstaan sodat daar nie onaangename verrassings is nie.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.