Ek het onlangs ’n interessante gesprek met ’n ouer oor haar dogter en besigheidsvaardighede gehad, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.
Sy wou weet wat die optimale ouderdom is om haar jongste aan sakebeginsels bloot te stel en hoe.
Dit is ongelukkig ’n feit dat slegs ’n klein hoeveelheid skoliere met die sakewêreld te doen kry en baie maak nie daarmee kennis tot ná hulle hul tersiêre opleiding voltooi het nie.
Die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika is een van die hoogste ter wêreld en dít verf beslis nie ’n rooskleurige prentjie vir môre se werksoekers nie. Daar is ’n groot kans dat jóú kind nie ná skool of universiteit werk sal kry nie.
Dit sou dus sin maak om jou kind se entrepreneurs- en besigheidsvaardighede so vroeg moontlik te ontwikkel om hom of haar ’n stewige hupstoot te gee.
Hoewel dit na ’n ingewikkelde proses mag klink, hoef dit nie noodwendig te wees nie. Ek vergelyk dit gewoonlik met fietsry.
Aan die begin is dit vreemd en jy mag dalk ’n paar keer afval, maar sodra jy die basiese beginsels onder die knie het, vergeet jy dit nooit weer nie. En, bygesê, kinders leer dié vaardigheid veel makliker aan as ons ouer garde.
Nét so kan eenvoudige sakebeginsels van vroeg af aangeleer word.
Bring die konsep van geld van vroeg af by jou kinders tuis – waar dit vandaan kom en waarom dit nodig is. Verduidelik dat ’n mens dit verdien in ruil vir werk en dat dit jou in staat stel om jou lewenstyl te finansier.
Leer vir hulle die beginsel van spaarsamigheid. Forseer hulle om elke keer voor hulle iets koop te vra of hulle dit werklik nodig het – met ander woorde, is dit ’n “want to have” of ’n “must have”?
Probeer so vinnig moontlik op ’n punt kom waar jy vir jou kind ’n toelaag gee om sy of haar eie basiese benodigdhede te koop. Dit leer hulle begroot asook beginsels soos beplanning en kweek ’n verantwoordelikheidsin.
Die belangrike les hier is dat die kind nie meer uitgee as wat hy of sy inkry nie.
Verduidelik wat skuld is, dat dit ’n koste (rente) dra en dat dit een van die grootste sondebokke van finansiële moeilikheid is.
Verder kan jy jou kind motiveer om goed te vervaardig en te verkoop. Help hom of haar om iets te maak (al is dit hoe eenvoudig) en te verkoop teen ’n hoër prys as wat dit gekos het.
Wie weet wat maak so ’n transaksie dalk in jou kind wakker? Besigheid vra nie hoe oud jy is nie.
Leer jou kind om te spaar uit die toelaag of wins van die “besigheid”. In hierdie stadium gaan dit nie oor die hoeveelheid nie, maar oor die beginsel.
Hou egter in gedagte: die maklikste manier om goeie besigheidsvaardighede oor te dra, is om ’n goeie voorbeeld te stel.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.