Moenie blindelings vertrou dat jou korttermynversekering goedkoper gaan wees as jy met ’n “direkte” versekeraar werk nie, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.
Mens sien sodanige maatskappye se advertensies letterlik oral en, met die koste van bemarking, moet mens die vraag vra of dit nie die kliënt op die ou end meer kos as om van die dienste van ’n makelaar gebruik te maak nie.
Ek wil my verstout om te sê dat diegene wat met direkte versekeraars werk aangenaam verras sal wees indien hulle hul premies sou vergelyk met dié van versekeraars wat deur goedgekeurde makelaars werk.
Hierdeur wil ek nie sê dat direkte versekeraars nie ’n plek in die finansiële wêreld het nie. Allermins. Hulle speel ’n belangrike rol en gaan in die toekoms ’n ál groter een speel.
In dieselfde asem glo ek dat die tradisionele makelaar ’n ewe belangrike rol vertolk.
Mens moet in gedagte hou dat korttermynversekering nie nét om premies wentel nie. Voldoende en geskikte dekking en die korrekte advies rondom dit is méér belangrik.
Een van die tekortkominge van direkte versekeraars is dat die persoon by die inbelsentrum nie vir jou dieselfde raad en rigting as ’n makelaar kan gee nie, aangesien hy nie jou omstandighede ken nie.
Jou makelaar het ’n meer persoonlike aanslag en kan vir jou leiding gee wat by jou omstandighede pas. Onthou, die onus berus altyd op die versekerde om seker te maak hy is tevrede met sy dekking.
Die hantering van eise is nog ’n belangrike aspek om in aanmerking te neem. Die vraag is wie namens jou gaan onderhandel indien daar een is.
’n Eenvoudige eis is dalk nie ’n probleem nie, maar ’n sogenaamde “grys” een kan problematies word. Makelaars beding daagliks honderde eise – wat nie andersins suksesvol sou wees nie – namens hul kliënte.
Polisbewoording is ook belangrik en die kliënt moet seker maak wat gedek is al dan nie. Omdat bewoording van polis tot polis verskil – veral by persoonlike polisse – moet daar ook seker gemaak word dat appels met appels vergelyk word.
’n Goeie makelaar behoort sy kliënt behoorlik oor die dekking in te lig en of dit mededingend in die mark is. Ander belangrike aspekte is byvoorbeeld die afkoop van bybetalings, motorhuur en vrywillige verhoogde bybetalings.
’n Werksverhouding word gewoonlik met tyd tussen ’n kliënt en makelaar gevorm. Laasgenoemde leer jou omstandighede ken en jy, as kliënt, kan sy advies deurentyd inwin.
Kontak jou finansiële raadgewer of makelaar gerus indien jy nie seker is of jy die beste moontlike premie vir jou dekking betaal nie.
Onthou, versekeraars betaal makelaars om ’n sekere diens te lewer. Direkte versekeraars betaal advertensiekoste.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.