Omdat dit belangrik is om te weet wat jou regte ná ’n eis is, wil ek die beginsel van “subrogasie” verduidelik asook uitbrei oor algemene voorwaardes van versekeringskontrakte, skryf finansiële raadgewer Pieter Willem Moolman.

In eenvoudige taal, is subrogasie die reg van ’n versekeraar om namens ’n kliënt teenoor derde partye op te tree en sodanig van die kliënt se regte asook alle beskikbare inligting gebruik te maak.

Dit behels byvoorbeeld dat die versekerde die versekeraar toelaat om die perseel waar die gebeurtenis plaasgevind het binne te gaan en besit te neem van beskadigde eiendom wat deur die polis verseker word.

Daar word van die versekerde verwag om alle inligting en bystand, wat redelikerwys vereis word, aan die versekeraar te verskaf en laasgenoemde mag die verhaling, verdediging of skikking van die eis oorneem en dit namens die versekerde voer.

Die versekeraar het die reg om ter enige tyd afstand te doen van enige verdediging, skikking of prosedure en die volle bedrag (of die bedrag waarvoor die eis geskik kan word) van sy aanspreeklikheid aan die versekerde te betaal.

Die grondliggende eienskap van subrogasie is dus die versekerde se reg om skadeloos gestel te word.

’n Ander algemene voorwaarde behels bedrieglike optrede of wanvoorstelling. Die versekerde oortree indien daar bewys kan word dat hy/sy ’n valse verklaring met betrekking tot ’n eis aan die polisie of versekeraar gegee het.

Indien die versekerde, of enigeen wat namens hom/haar optree, bedrieglike maniere gebruik om voordeel ten opsigte van ’n polis te verkry, verloor die versekerde sy/haar reg om ingevolge die polis te eis.

Die versekerde verloor ook alle regte indien ’n eis ontstaan as gevolg van ’n doelbewuste, voorbedagte of opsetlike daad wat die versekerde pleeg of waarby die versekerde of iemand wat namens hom/haar optree, betrokke is.

Verder kan die versekerde ook sy reg om te eis verloor indien inligting of dokumente in verband met ’n eis, hetsy deur die versekerde self of namens hom/haar geskep, onwaar, onvolledig of bedrieglik is.

Die laaste punt waarvoor versekerdes moet ligloop, is om nie die grootte van ’n eis doelbewus te oordryf nie.

Indien ’n versekeraar ’n eis skriftelik repudieer, of indien die versekerde die bedrag van ’n eis wat skriftelik gemaak is, betwis, het laasgenoemde 180 dae ná sodanige kommunikasie om ’n skriftelike vertoë te rig of regstappe in te stel.

Versekerdes moet ook deeglik bewus wees van die “kontribusie”-konsep. Dit vind plaas wanneer ’n eis wat deur die versekerde se polis betaalbaar is ook deur ’n ander polis gedek word – met ander woorde ’n item is dubbel verseker.

Indien kontribusie van toepassing is, sal elke versekeraar sy eweredige deel van die eis betaal en is die versekerde nie geregtig om tweemaal vergoed te word nie.

Soos altyd, stel ek voor dat jy met jou finansiële raadgewer of makelaar praat indien jy verdere inligting of advies verlang.

Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.