’n Pensioentrekker wat afhanklik is van rente-inkomste het my onlangs hande in die hare kom sien, skryf finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Hy is moedeloos aangesien sy inkomste die afgelope twee jaar gereeld daal en die onlangse verlaging in die primakoers gaan sake vererger.
Elke sport het nou maar eenmaal sy beserings en vir diegene wat afhanklik is van rente-inkomste, lê daar ‘n moeilike tydjie voor.
Daar word verwag dat rente-inkomste in die afsienbare toekoms relatief laag sal bly. Die hoofrede is die stimulering van die land se ekonomie.
Dis goeie nuus vir mense met skuld, maar slegte nuus vir ander. Ek moet beklemtoon dat die huidige lae koerse darem ook gesien moet word teen die agtergrond van lae inflasie.
Dit laat egter die vraag ontstaan wat ’n mens se beste opsie met kontant is. Hieronder oorweeg ek twee – inkomste-fondse en aandele.
Indien jy in ’n geldmark of gewone bankdeposito belê het, gaan jou rente ná die laaste afwaartse aanpassing tot omtrent 5.5% beperk wees. Dit sluit belasting uit, wat ‘n wesentlike rol kan speel.
’n Persoon met ’n gemiddelde belastingkoers van 30% kry so min as 3.85% ná belasting. Dit beteken dat die persoon inderwaarheid elke jaar armer word indien inflasie in aanmerking geneem word.
Met bogenoemde as agtergrond, beveel ek aan dat mense inkomste-fondse moet begin oorweeg. Oor jare uitpresteer inkomste-fondse gewone geldmarkte.
My persoonlike gevoel is dat beleggers omtrent 2% meer kan verdien.
Inkomste-fondse is baie meer gediversifiseer as gewone geldmarkte en maak gebruik van ’n verskeidenheid geldmarkinstrumente soos skuldbriewe, staatseffekte, voorkeuraandele ensomeer.
’n Tipiese voorbeeld van so ’n fonds is die Stanlib Income Fund, wat deur die hoogaangeskrewe Henk Viljoen bestuur word.
Daar is verskeie inkomste-fondse en almal het verskillende mandate. Ek glo daar is ’n fonds wat by elke persoon se behoefte sal pas.
’n Ander opsie is om weer na aandele te begin kyk. Dit is egter riskant en moet met groot omsigtigheid hanteer word.
In so geval sal jy aandele identifiseer wat goeie dividende betaal. Daar is vandag verskeie standvastige maatskappye wat dividende van 4% en meer uitbetaal.
Onthou, dividende is belastingvry en jou kapitaal behou sy reële waarde. Dis belangrik dat jy tyd aan jou kant moet hê indien jy die aandele-opsie oorweeg.
Ek sluit af – as jy sukkel met jou rente-inkomste, kry iemand wat jou sinvol kan bystaan om die beste produk vir jou omstandighede te verkry.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.