In die verlede was dit moeilik om gastehuise en die inhoud en risiko’s daaraan verbonde behoorlik te verseker, aangesien dit semi-woonhuis en semi-besigheid is, skryf finansiële beplanner Pieter Willem Moolman.
Dit was dus moeilik om ’n balans tussen die twee uiteenlopende pole te kry en dit op effektiewe wyse bymekaar uit te bring.
Versekeraars het hul aandag meer en meer op gespesialiseerde dekking ten opsigte van die toerisme- en gastehuisbedryf begin toespits en kan jy nou behoorlike dekking geniet of jy nou die eienaar van ’n boetiek- of plattelandse hottelletjie, herehuis, gastehuis, hut, kothuis, selfsorg-akkommodasie, woonwapark, tyddeel-gerief of wildsplaas is.
Selfs sportklubs, gholfbane, gesondheidsentrums en badplase, konferensie-geriewe, geriewe vir mini-gholf, restaurante in privaatbesit, teaters en kunsgalerye kan onder die nuwe toerisme-polis gedek word.
Ek wil egter vandag op gastehuise konsentreer.
Die gastehuis-polis verleen dekking aan kleiner gastehuise wat tot 20 kamers het en waarvan die eienaar of bestuurder op die perseel woon. Maaltye moet ook op die perseel aangebied word.
Dekking vir gastehuise wat deel vorm van ’n gasteplaas, kan ook bekom word.
Akkommodasie soos bed-en-ontbyt-ondernemings, herehuise, hutte, gasteplase, kothuise en selfsorgeenhede kwalifiseer almal om as gastehuise verseker te word.
Slegs aktiwiteite soos swem, fietsry, staptogte, gholf, “putt-putt”, tennis en ander balsportsoorte word in die versekeringsbedryf as deel van die definisie van die besigheid van gastehuise beskou. Sou jy enige ander aktiwiteite op jou perseel aanbied, moet dit so aan jou versekeraar of makelaar vermeld word.
Op die nuwe gastehuis-polis word die afdeling Geboue Omvattend vervang met Eiendomskade.
Sover dit diefstal aangaan, sal slegs diefstal van geld wat gepaardgaan met kragdadige en gewelddadige betreding of verlating van die gebou wat volg op geweld of dreigement van geweld, gedek word. Diefstal sal andersins ten volle gedek wees.
Sover dit diefstal vanuit die buitegeboue betref, moet dit gepaardgaan met kragdadige en gewelddadige betreding of verlating van die gebou wat volg op geweld of dreigement van geweld.
In geval van diefstal van inhoud, sal ’n bybetaling van R1 000 betaalbaar wees. Versekeraars bou juis bybetalings soos hierdie in polisbewoordings in ten einde klein en onnodige eise te probeer voorkom.
Gradering is ’n ander belangrike aspek wanneer dit kom by gastehuise. Die graderingskriteria hang van aspekte soos uitleg van tuine, kondisie van geboue, dekor in die kamers, meubels, ligte, vloere en lugversorging af.
Slegs ondernemings wat voldoen aan die minimum-vereistes word oorweeg vir gradering. Hierdie vereistes sluit veiligheid en sekerheid van kliënte en personeel, registrasie as ’n besigheid by die provinsiale owerheid, gesondheid- en veiligheidsertifikate, brand- en bouregulasies, rookregulasies asook gemeenregtelike aanspreeklikheidsversekering in.
Laasgenoemde vereiste is presies waar jou versekeraar of makelaar in die prentjie kom. Hy kan direk gekontak word sou jou gemeenregtelike aanspreeklikheidsversekering nie in plek wees nie.
Dit is ook belangrik om te onthou dat elke eiendom ten minste eenmaal per jaar gegradeer word en dat dit slegs vir 12 maande geldig is.
Skakel jou makelaar of versekeraar vandag nog om seker te maak jou gastehuis is behoorlik gedek.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.