Die vraag wat ek in vandag se rubriek aan jou stel, is waar jy met jou finansies staan, skryf Pieter Willem Moolman.
Is jy finansieel onafhanklik? Of, anders gestel, is jy op pad om finansieel onafhanklik te word?
Indien jy is, moet ek jou gelukwens. Jy maak deel uit van ’n uitgesoekte groep waaraan slegs 4% van alle Suid-Afrikaners behoort.
Indien nie, kan jy óf redeneer dat jy in die goeie geselskap van 96% ander Suid-Afrikaners is, óf jy kan iets doen om dit te verander!
Jy wil dalk vra wat finansiële onafhanklikheid is. In sy eenvoudigste vorm beteken dit dat jou bates ’n passiewe inkomste genereer wat jou maandelikse uitgawes dek.
Dis hoe eenvoudig dit is. Vergeet daarvan om ’n miljoen in die bank te moet hê of ’n buitensporige salaris te moet verdien.
Prakties gesproke, beteken dit dat jy byvoorbeeld ’n tweede eiendom het wat ’n huurinkomste van R5 000 per maand genereer terwyl jou maandelikse uitgawes slegs R4 800 is – met ander woorde jy genereer elke maand ’n surplus van R200 sonder om ’n steek werk te doen.
Daar is drie beginsels wat jou kan help op jou paadjie na finansiële onafhanklikheid.
Begin deur jouself af te vra wat jou inkomste in vergelyking met jou uitgawes is. Stel ’n begroting op en sien presies hoe jy jou geld bestee.
Het jy ’n surplus aan die einde van die maand of het jy ’n oortrokke-gerief, kredietkaart of lenings nodig om jou lewenstyl te finansier? Indien jy reeds in die gelukkige posisie is dat jy elke maand geld oor het in jou bankrekening, wat maak jy daarmee?
’n Baie belangrike vraag is hoe groot jou passiewe inkomste moet wees om jou totale uitgawes te dek.
Die tweede beginsel behels jou finansiële doelwit of visie. Het jy ’n droom oor hoeveel jy wil verdien en wat jy graag wil hê en doen wanneer jy aftree?
Daar is ’n Engelse spreekwoord wat lui: “If you fail to plan, you plan to fail”. Die grootste deel van die bogenoemde 96% beland daar omdat hulle nie finansiële doelwitte vir hulself stel nie.
Die derde beginsel sentreer rondom die finansiële gewoontes wat jy moet verander om te kom van waar jy nou is tot waar jy wil wees. Met ander woorde die padkaart, of roete, wat jy gaan volg tot onafhanklikheid.
Dis soos om jou weg van Port Elizabeth na Oos-Londen te vind deur van satelliet-navigasie of ’n padkaart gebruik te maak.
In die eerste plek moet jy weet wat jou huidige adres is, tweedens moet jy weet presies waarheen jy wil gaan en, derdens, moet jy die aanwysings volg wat jou die maklikste en vinnigste by jou bestemming sal bring.
Pieter Willem Moolman is die stigter van PWM Financial Management in Port Elizabeth. Besoek www.pwmfb.co.za of skakel 041 582 3034.